Liewe mamma...

Liewe mamma. Ek sit vanaand alleen in die voortuin; almal is nog uit. Van gisteraand af dink ek so baie aan mamma. Ek wou gisteraand bel en sê die bejaardefunksie was baie lekker - mamma sou dit geniet het. Klomp van die tannies wat mamma ken was daar...maar 'n klomp plekke was leeg...mamma s'n ook. Sussie het vir my al die papiere en state gestuur sodat ek mamma se boedel kan doen - Absa (vir wie mamma soveel jare gewerk het) wil nie meer die eksekuteer wees nie omdat die boedel "te klein" is. Die bliksems gee nie regtig om nie, mamma, dit gaan oor rand en sent. Hulle meet 'n mens se lewe in rand en sent. Dit wat mamma nalaat kan nie in rand en sent gemeet word nie. Dit was vir my baie erg toe mamma se hele lewe en aardse besittings in 'n A4-koevert afgelewer word. Vir die eerste keer sien ek mamma se testament...die bietjie wat mamma oorgehad het gee mamma vir ons. Ai mamma, ek waardeer dit so baie, maar my hart is vanaand so seer. Mamma het met so min klaargekom sodat ons ietsie kan erf. My liewe mamma, ek wil vanaand net huil en nooit ophou huil nie. Mamma het altyd alles vir ons gedoen en gegee. Mamma is een van die mooiste mense wat ooit geleef het. Ek mis mamma so baie. Ek moet sterk wees en heeltyd ander mense troos, maar vanaand  wens ek so daar was iemand wat my kon troos...of iemand wat net vir mamma kon sê ons mis mamma so baie. Hierdie covid het ons so seergemaak. Dit het soveel wonderlike mense van ons gesteel: Evert, oom Simon, Ina, oom Ben en ... mamma. Ons kon nie eers kom groet nie. Ek weet mamma is nou by die Here want mamma het die Here geken en deur mamma het ek die Here leer ken, maar ai mamma, dis leeg sonder mamma hier. Vanasnd het ek nie antwoorde nie, net trane. Ek groet vir eers...ek skryf weer as ek klaar gehuil het... Lief mamma baie...vir altyd...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...