'n Kort gebed
‘n Kort
gebed
Mat 6:7-8 “Wanneer
julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik
nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde
gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle
nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
In Matteus
6 leer Jesus Sy dissipels om te bid. ‘n Mens sal verwag dat dit ‘n baie lang
lesing moet wees met hoofstukke, paragrawe, onderafdelings, ens. Maar dis juis
nie so nie. Om die waarheid te sê, dis ‘n baie kort gedeelte (10 verse) en ‘n
baie kort gebed.
In daardie
tyd het sommige Jode die gewoonte gehad om êrens op ‘n straathoek te staan en
bid sodat die mense hulle kan sien. Dan het hulle lang en indrukwekkende gebede
gebid sodat die mense hulle moes bewonder daarvoor. Ek onthou ‘n sekere oom in
die gemeente waar ek grootgeword het, wat ook graag sulke lang en
indrukwekkende gebede gebid het. Vir ‘n lang tyd het ek geglo dat ek nie hardop
kan bid nie, want ek is nie op sy “standaard” nie. As klein seuntjie het ek
gedink dat ‘n mens so MOET bid.
Jesus draai
alles om. Gebed gaan nie oor lang en moeilike sinne nie. Gebed is nie ‘n lang
redenasie waar ek God moet oortuig om my te help nie. Dis ‘n gesprek tussen ‘n
kind en ‘n Pappa. Hoe eenvoudiger, hoe beter. Om die waarheid te sê, die Vader
weet reeds wat ons nodig het (Mat 6:8). Dit gaan meer oor die kinderlike
vertroue as oor die woorde self.
En wanneer
ek vra “gee ons vandag ons daaglikse brood”, weet my Vader hoeveel brood ek
nodig het. Hy weet ook van al die ander dinge wat ek saam met die brood nodig
het. Hy weet hoe lyk my program vandag, Hy weet van die tandartsafspraak en die
vergadering later vandag. Hy weet ek is bang vir die week. Hy ken my
bekommernis oor more. Daarom is my gebed eintlik net om tot rus te kom in God.
‘n kind by sy Vader. Veilig. Rustig. God weet.
Mag jy
vandag rus vind in God.
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment