Ons Vader...
Ons Vader…
“So moet
julle bid: ‘Ons Vader wat in die hemel is…’” (Mat 6:9)
Ek drink
gister koffie saam met ‘n pappa. Hy vertel vir my dat hy onlangs na ‘n foto van
sy seun kyk en dink: ek is so lief vir jou. Enige pappa sal dit verstaan. Ek
sien hoe Anton vir klein Leon vashou – Leo is nog klein maar hy weet al hy is
veilig by sy pappa. Ek dink ver terug: hoe ek soms verby die skool gery het net
om te sien of ek my kinders sien en of hulle gelukkig lyk. Dis die hart van ‘n
pappa. ‘n Goeie pappa sal alles vir sy kinders doen.
As Jesus vir
ons leer om te bid, leer hy ons om vir God “pappa” of “vader” te sê. Ek het
nooit besef hoeveel betekenis daar in hierdie woord is, totdat ek self ‘n pappa
geword het nie. Ek weet hoe lief ek vir my kinders is en dat ek alles vir hulle
sal doen en gee. God is ‘n baie groter en beter pappa as ek – Hy wil vir Sy
kinders nog meer doen en gee. Hy wil vir Sy kinders voorspoed gee, nie
teenspoed nie (Jer 29:11).
Wanneer ek
my oë toemaak en bid “Ons Vader wat in die hemel is”, is dit ‘n gesprek tussen ‘n
Vader (pappa) en ‘n kind. Ek hoef nie groot woorde te gebruik nie; ek hoef nie
Sy arm te probeer draai nie; ek kan maar net met Hom praat soos ek met my pa
gepraat het. Die krag van my gebed lê nie in my woorde en sinne nie; dit lê in
die Vader se liefde vir my - dis die sekuriteit en troos van gebed. Ek is
veilig in my Vader se liefde.
My kinders
is al groot, maar my omgee vir hulle is nie minder nie. Ek loop laasweek verby ‘n
winkel en sien ‘n mooi warm baadjie wat by hulle sal pas, en koop dit sommer
net daar vir hulle. Hulle het nie gevra daarvoor nie; my pa-hart wou dit graag
doen. Vertou vandag God se pa-hart vir jou. Hy weet wat jy nodig (Mat 6:8) het
en Hy sal sorg – dis wat ‘n goeie pa doen.
Mag jy
vandag veilig voel by jou Vader.
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment