Veilige Vaderarms

Toe ek klein was, het ek gedink dat alle kinders veilig voel by hulle ouers - dis tog wat ouers doen. Hulle laat hulle kinders veilig voel. Soos wat ek ouer word, het die skok en ontnugtering gekom: huise waar dit nie veilig by pappa is nie. Huise waar pappa vir mamma slaan of waar pappa sy eie kind mishandel? Huise waar pappa's hulle eie kinders molesteer? Huise waar kinders in vrees leef vir hulle pappa - kan dit wees? Dis die nare werklikheid van 'n stukkende wêreld.

Die Bybel stel ons voor aan 'n ander soort Vader. Hierdie Vader het Sy kinders lief tot die dood. In Hosea 11 lees ons hoe hierdie Vader oor Sy kinders voel:

Hosea 11:1-5 "Toe Israel nog 'n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep...Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra ... Ek het hulle met sorg en liefde gelei ... Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee..."

Selfs wanneer Sy kinders ongehoorsaam is en hulle rug op Hom draai, staan Sy liefde vas:

Hosea 11:8 "Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? ... Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk."

In Lukas 15 lees ons van hierdie Vader se liefde vir Sy seun wat weggeloop het. Wagtend. Soekend. Oop arms.

Deur Jesus se kruis en opstanding word jy ook nou deel van God se gesin. Jy mag vir Hom "Pappa" sê. Jy mag staatmaak op Sy liefde en trou - ook teenoor jou. Jy mag veilig voel by Hom - geen vrees.

'n Vriend van my, Charl Botha, het 'n baie mooi lied geskryf oor die Vader se arms - die arms wat jou ook vandag vashou en nooit sal laat los nie...

Mag jy vandag veilig voel!

Groete,

Coenie

https://youtu.be/8ZLwzScya88



Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...