My seun, my seun

"My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun." (2 Sam 18:33)

Absalom was nie 'n maklike kind nie - vra maar vir Dawid wat lang tye moes wegkruip vir sy seun. En tog, wanneer Absalom sterf, wens Dawid dat hy eerder kon sterf in sy seun se plek.


Dawid se uitroep na die dood van sy seun is die uitroep van ouers oor alle eeue oor hulle kinders. Ek dink die meeste ouers sal graag hulle kinders se seer self wou dra - as hulle net kon.


Gistermiddag, toe ons die bevestiging kry dat ons seun 'n ongeneeslike mediese kondisie het, was my trane soos 'n damwal wat breek. Dit was vir my as pa die seerste seer. My seun, hoe graag sou ek dit nie in jou plek wou dra nie. Ek wens ek kon elke merkie op jou mooi jong ongeskonde liggaam op myself neem; in jou plek die ongemak en angs verduur. My seun, my seun, hoe graag sou ek...


Die lewe is wreed en ongenadig; God is soms ver en onverstaanbaar. Ek kan nie jou siekte op my neem nie, maar ek kan saam met jou hierdie pad loop en saam met jou probeer glo. Ons kan saam al die mooi op hierdie onbekende pad geniet; elke oomblik gryp en in elke oomblik leef. Daar is steeds soveel mooi. Jou godgegewe stem kan nou soveel meer vir ander beteken. Dalk kan jy ook later soos Paulus sê dat Sy genade vir jou genoeg is - dat Sy krag juis tot volle werking kom wanneer ons swak is. Dalk kan ek dit ook eendag hardop sê...


Ek sit vanoggend in die vliegtuig oppad na my skoonma se begrafnis. Ek huil van gister af aanmekaar. Snaaks, ek huil nie oor skoonma nie - sy was 83 en het 'n mooi vol lewe gehad. Ek huil oor my seun. Absalom, my seun, my seun...


Ek het nie vandag die woorde nie, maar vind troos in een van die liedere wat ons so dikwels in die kerk gesing het:


Liefde bring verandering,

tyd is kosbaar, woorde tel.

Liefde bring verandering,

hartseer dieper, slae fel.

Liefde keer ons wêreld om

en verlange duur vir altyd.

Ja, liefde bring verandering:

dit bring vreugde - selfs in pyn.

Niks kan hierdie liefde in ons

hart laat kwyn!


Liefde,

Pappa


Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...