Om gelukkig te wees...(1)
Om gelukkig te wees…
Ek dink alle mense wil graag GELUKKIG wees. Ander woorde vir gelukkig is onder andere bly, tevrede, verheug, vrolik, voorspoedig, ens. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat graag ONGELUKKIG wil wees nie. Maar wat maak ‘n mens gelukkig? Wat moet jy hê om gelukkig te wees? Dis ‘n vraag wat elkeen vir homself moet antwoord. Wanneer sal ek gelukkig wees?
Ek wil hierdie week sommer net ‘n paar eenvoudige dinge met julle deel – dinge wat die Bybel sê ‘n mens gelukkig kan maak. Die eerste een is doodgewoon KOS.
Kyk na hierdie twee verse:
1 Kon 4:20 Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see. Hulle het volop te eet en te drink gehad, en hulle was gelukkig.
Hand 14: 17 “Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.”
Ons almal hou van lekker eet. Ons spandeer baie geld en baie tyd aan kos. Ons laai resepte af en probeer altyd ietsie nuuts voorberei. Ons onthaal graag en ons hou daarvan as mense ons onthaal. Dis lekker om te eet – dis een van die vreugdes van die lewe. Selfs die Prediker het na sy lang soeke na die sin van die lewe by die punt gekom om te sê “eet jou brood met vreugede en drink jou wyn met ‘n bly gemoed”. Geniet vandag elke stukkie kos wat jy eet – dis ‘n gawe uit die Vader se hand.
Terwyl ek vandag dankie sê vir die kos wat ek het, onthou ek ook dat daar mense is wat nie kos het nie. Ek kan hulle ook gelukkig maak deur vir hulle iets te gee om te eet. Ek kan ander mense bederf met dit waarmee die Here my bederf het. Kom ons maak vandag ander mense ook gelukkig…
Mooi dag!
Coenie
https://youtu.be/O6fxTlj2NO8?feature=shared
Comments
Post a Comment