Om gelukkig te wees...(2)
Om gelukkig te wees…
Ons almal wil graag gelukkig wees. Ons het gister gesê dat kos ‘n mens gelukkig kan maak. Vandag gesels oor KINDERS.
Ek het eenmaal die verhaaltjie gelees van koning Midas van Frigië wat baie ryk was en graag tussen al sy rykdom rondgestap het en vir homself herinner het hoe ryk hy is. Eendag het ‘n man met wit klere aan hom verskyn en gesê dat hy enige iets kon wens. Hy wou graag nòg ryker wees en het gewens dat alles waaraan hy raak in goud kan verander. So het die huis, die blomme en alles om hom in goud verander. Die volgende more, toe sy dogtertjie in die kamer kom en hom met ‘n drukkie groet, verander sy ook in goud: klipharde, kliniese, dooie goud. Hy was skatryk, maar sielsongelukkig. Die verhaaltjie eindig waar sy goue dogtertjie weer in ‘n regte dogtertjie verander en hy besef dat sy kind meer werd is as al die goud in die hele wêreld.
Die mense van die Ou Testament het hierdie waarheid goed verstaan; vra maar vir die kinderlose vroue: Sara, Rebekka en Hanna. Hulle sou enige iets doen of gee om ‘n kind te hê, selfs vir hulle slawe opdrag gee om namens hulle kinders te hê. Dink maar aan die roerende gebeure by die heiligdom in Silo, wanneer Hanna vir die Here smeek vir ‘n kind.
Gen 30:10 10 "Sy het vir hom ’n seun in die wêreld gebring, en Lea het gesê: “Nou is ek gelukkig!”
Kinders is meer werd as al die goud in die hele wêreld. Kyk maar na die vreugde op die gesig van ouers by ‘n skole-sportbyeenkoms, ‘n laerskoolkonsert, ‘n prysuitdeling…
Die Bybel gaan egter nog so ‘n stappie verder:
Spr 23: 24 ’n Vader van ’n kind WAT REG DOEN, voel baie gelukkig; ’n wyse seun verskaf sy vader groot vreugde. Mag ook jóú vader dié vreugde hê, mag ook jóú moeder wat jou in die wêreld gebring het, so gelukkig wees! (Lees ook Spr 27:11 en 29:3)
Ja, kinders kan vir pappas en mammas baie gelukkig maak. Kinders kan ouers laat blom. Die meeste ouers wat ek ontmoet, kan nie uitgepraat raak oor hulle kinders nie. Ongelukkig kan kinders vir ouers ook baie ongelukkig maak: Slapelose nagte, rooi gehuilde oë, selfverwyt en moedeloosheid. Ek het oor die jare baie ouers ontmoet wat baie seer gekry het a.g.v hulle kinders; kinders wat selfs hulle rug draai op hulle ouers.
God se droom was dat ons kinders ons gelukkig moet maak. Mag jou kinders vir jou baie vreugde bring. Mag jy vir jou ouers baie vreugde bring! Mag ons gemeente ‘n gemeente wees met gelukkige ouers en kinders! As jy vandag seer of hartseer is oor jou kind – mag die Here dit kom verander en kom nuutmaak…
Mooi dag!
Coenie
https://youtu.be/Lar4hT9mpzY?feature=shared
Comments
Post a Comment