Groot lydensweek - Dinsdag
Dinsdag 25 Maart
Wat sou jy hierdie week alles wou doen as jy geweet het dat jy Vrydag gaan sterf? Wat doen ’n mens as jy nog net twee of drie dae het om te leef?
Dis Dinsdag, drie dae voordat Jesus aan ’n kruis sou sterf. Jesus is weer oppad na die tempel toe. Die liefde vir Sy Vader se huis verteer Hom. Dis asof Jesus elke oomblik moontlik by die tempel wil spandeer. Sondag het Hy gehuil, gister het Hy die tafels omgegooi en die tempel weer ’n huis van gebed gemaak. Vandag wil Hy die mense gaan leer. Hy vertel vir hulle die gelykenis van die 2 seuns; die gelykenis van die onwaardige landbouers; die gelykenis van die koninklike bruilofsmaal. Hy praat met hulle oor belasting, oor die opstanding uit die dood en oor die grootste gebod. Hy raas met die Farriseërs en dan huil Hy weer oor Jesusalem.
Daarna gaan Jesus na die vroue-voorhof by die tempel. Hy staan en kyk hoe ’n arm weduwee haar muntstuk kom ingooi – sy gee alles wat sy het. Vanaf die vroue-voorhof beweeg Jesus na die voorhof van die heidene en van daar na die Olyfberg. Dit was ’n uitputtende dag, en Jesus en Sy dissipels gaan terug ba Betanië waar hulle by Marta, Maria en Lasarus oornag.
Die minute tik verby. Vrydag kom nader. Wat doen mens in jou laaste dae? Jesus kies om by die tempel te wees, besig om Sy dissipels te leer. Hulle gaan binnekort alleen agterbly. Daar wag moeilike tye en groot uitdagings op hulle. Jerusalem sal afgebreek word; die dissipels sal mishandel word en daar sal groot verdrukking kom. Jesus is pynlik eerlik. Lees gerus Mat 22-25.
Is daar hoop? Ja, daar is hoop! Jesus sê: “wie tot die einde volhard, sal gered word”. (Mat 24:13). Byt vas, hou vas, moenie moed opgee nie!
Mooi dag,
Coenie
Comments
Post a Comment