Groot Lydensweek - Donderdag

Dit was Donderdag – twee duisend jaar gelede. Israel was gepak met al die besoekers. Uit al die dorpe en stede van Israel het mense na Jerusalem gekom vir die paasfees. Daar was nie plek vir ’n muis nie. Hulle kom  vier dat die Here hulle uit Egipte bevry het. Hulle onthou die bloed aan die deurkosyne en die verlossing uit Egipte.

Elke gesin bring ’n lam of ’n duif saam wat by die tempel geoffer gaan word. Daar word bereken dat daar ongeveer 25 000 lammers elke jaar by die paasfees geslag is. Mense wat van ver af kom het geld saamgebring en in Jerusalem ’n lam gekoop. Soms het twee of drie gesinne saam een lam geoffer. Dis ’n feestelike dag.

Op daardie oggend stuur Jesus twee dissipels vooruit na Jerusalem om hulle groepie se paasmaaltyd ook voor te berei – net soos al die ander mense. Die maaltyd begin wanneer die eerste drie sterre in die hemelruim verskyn – dit word aangekondig deur ’n basuin wat geblaas word. Maar daardie aand, by die paasmaaltyd, ontstaan daar ’n stryery onder die dissipels oor wie van hulle die belangrikste is. Dan neem Jesus ’n wasskottel en was hulle voete (Joh 13) – hulle sal hierdie les nooit vergeet nie.

Terwyl Hy en Sy dissipels saam kuier om die tafel kondig Jesus meteens aan dat een van hulle Hom gaan verraai – kort daarna verlaat Judas die maaltyd. Tydens die maaltyd stel Jesus die nagmaal in – van nou af sal die brood en die wyn nie meer terugwys na die bevryding uit Egipte nie maar na Sy eie liggaam en bloed. Hier aan tafel doen Jesus vir Sy dissipels die aangrypende hoëpriesterlike gebed (Joh 17). Aan die einde van ete sing Jesus vir oulaas saam met Sy sissipels ’n lied.

Na die ete vertrek hulle na Getsemane waar Jesus gaan bid en Sy Vader smeek om die beker te laat verbygaan. Dis ook daar in die tuin waar Jesus later gearresteer word en weggeneem word om verhoor te word. Dis ’n lang en moeilike nag wat voorlê. Die volgende dag sou Hy sterf. Hy was “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”. God se tydsberekening is perfek.

Ons hou more-oggend ons eie paasmaal met brood en wyn. Ons vier nie die verlossing uit Egipte nie, maar die verlossing uit sonde en dood. Ons nooi jou hartlik uit na ons eredienste om 8:00 of 10:00.

Mooi dag!

Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...