Groot Lydensweek - Maandag

 

Maandag 24 Maart

Ons is nou in die Groot Lydensweek. Gister het ons nagedink oor daardie dag toe Jesus (vir oulaas) in Jerusalem aangekom het. Oppad na die stad stuur Hy twee dissipels om ’n esel te gaan haal waarop Hy in Jerusalem kan inry – wat ’n vernedering vir Jesus! Maar Hy doen dit doelbewus, want Hy kom nie as die nuwe koning op ’n perd in die stad in nie; Hy kom as ’n nederige dienskneg – oppad na die kruis. Sy grootste hartseer is oor die tempel en die leiers by die tempel. Daar is baie godsdiens (offers, rituele, wette), maar hulle godsdiens het leeg en liefdeloos geword. Daarom huil Jesus oor hierdie stad met sy indrukwekkende tempel...

Daardie Sodagaand het Jesus en Sy dissipels gaan oornag by goeie vriende in Betanië: Marta, Maria en Lasarus. ’n Mens kan nie help om te wonder waaroor hulle alles gesels het in die huisie in Betanië nie.

Daardie Maandag is Jesus weer terug na die tempel. Dis asof Hy in die laaste week al Sy tyd in die tempel wou spandeer. Dit was op daardie selfde Maandag dat Hy ’n sweep gevat het en die duiweverkopers uit die tempel uitgejaag het: “My huis moet ’n huis van gebed wees!” Hoor jy Jesus se hart en Sy passie oor die tempel en ook oor ons gemeente? Ons mag nooit vergeet waarom ons hier is nie.

Jesus verduidelik dit so: “Die liefde vir U huis verteer my.” (Joh 2:17). Voordat Hy sterf wil Hy die tempel weer maak wat dit veronderstel was om te wees: ’n aanbiddingsplek. ’n Plek waar mense God kom ontmoet. ’n Plek vir mense wat soek na God. Mag ons gemeente so wees...

Op daardie Maandag vervloek Jesus die vyeboom om te sê dat elkeen wat nie vrugte dra nie, uitgekap sal word. Ons moet vrugte dra. Ons moet lig wees. Dis nie net 'n stelling nie; dis ook 'n opdrag.

Volgens die tradisie in die Weste is dit ook op hierdie dag (Joh 12), dat Maria Jesus in Betanië met nardusolie gesalf het - onwetend dat sy Hom voorberei vir Sy begrafnis later hierdie week...

Mooi en geseënde week,

Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...