Groot Lydensweek - Woensdag

Woensdag 27 Maart

Dikwels, wanneer ek weer deur my kalender blaai, sien ek dat daar oop kolle is. Ek weet ek was heeldag besig maar ek het dit nie neergeskryf nie en ek kan nie onthou wat in daardie tyd gebeur het nie. Daar is ook sulke oop spasies in ons foto-album.

Daardie Woensdag, in die Groot Lydensweek, was so ’n oop kol in Jesus se lewe. Die Bybel vertel nie vir ons wat op daardie dag gebeur het nie. Dalk was Jesus weer na die tempel toe om die mense verder te gaan leer? Dalk het Hy daardie Woensdag sommer net die dag saam met Sy dissipels en Sy vriende in Betanië spandeer – Homself voorberei vir alles wat Donderdag en Vrydag sou gebeur. Dalk het Hy die dag alleen deurgebring – iewers op ’n koppie of ’n berg – net Hy en Sy Vader. Die Bybelskrywers swyg oor daardie Woensdag.

Deur die loop van jare het hierdie dag verskillende name gekry: Spioen Woensdag (direkte vertaling van Spy Wednesday) omdat Judas waarskynlik op hierdie dag ooreengekom het om Jesus te veraai (Mat 26:14-16). Van daardie Woensdag af was Judas heeltyd op die uitkyk vir ’n geleentheid om Jesus te verraai - 'n spioen in die binnekring. In sommige kulture word dit daarom Swart Woensdag of “Wednesday of shadows” genoem. In die Westerse kerk is dit Goeie Woensdag genoem en in die Oosterse kerk Heilige Woensdag. Sommige meen dat Maria op hierdie dag die kosbare olie oor Jesus uitgegiet het terwyl Hy in die huis van Simon die melaatse was – ook in Betanië. Hierdie Woensdag bly ’n oop kol.

Dalk is dit ’n goeie gewoonte om op hierdie dag ook sommer net stil te wees; te rus voor die uitmergelende Donderdag en Vrydag. Dis ook goed om op hierdie dag te onthou wat die waarde van vriende soos Marta, Maria en Lasarus is...daardie vriende waar jy veilig kan voel – selfs in die moeilikste tyd van jou lewe. Sulke vriende is skaars maar kosbaar.

Ek wens vir jou ’n mooi Heilige Woensdag.

Groete, Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...