Hospitaal
Vrydag refleksie - 7 Maart 2025
Elkeen van ons gaan iewers in ons lewe in 'n hospitaal draai. Dalk het jy alreeds; dalk het jy reeds baie dae van jou lewe in 'n hospitaal deurgebring; dalk is jy op hierdie oomblik in 'n hospitaal.
'n Hospitaal is presies wat dit sê: hospitaal. Dis 'n plek vir siek mense, of mense wat seer het. Sommige mense kom in en gaan vinnig weer uit; ander bly dae of weke of moet gereeld terugkom. Party mense word behandel en dan is hulle gesond; ander word behandel maar word nie gesond nie. Die aarde is nog stukkend; alles en almal word nie gesond nie.
In elke hospitaalsaal kry jy die grootmonde - almal moet hoor van al hulle kwale en skete - hulle vertel dit graag vir almal. Daar is ook die lawaaimakers - niks is ooit reg nie: die kos is te min; die verpleegster is te stadig en die dokters wil net geld maak - niks is ooit reg nie. Maar in elke saal is daar ook die (meerderheid) stille gelowiges. Hulle is diep bewus van hulle eie broosheid en afhanklikheid. Die hospitaal is vir hulle 'n pelgrimstog. Hulle is bewus van God se teenwoordigheid; hulle besef hospitaalgrond is heilige grond. Hier raak God mense aan, maar hier blaas baie mense hulle laaste asem uit. Hier in die hospitaal besef jy jou verganklikheid, of soos Dawid geskryf het, dat ons dae eintlik maar min is, soos die veldgras, soos 'n gedagte (Ps 90). Maak nie saak hoe goed dit nou gaan nie; hierdie liggaam kan nie vir altyd hou nie. Daarom is hospitaaltyd refleksietyd, nadinktyd, regmaak-tyd, nuwe-begin-tyd. Elke mens in die hospitaal het 'n storie.
Iemand het lank terug gesê dat ons God soms duideliker raaksien deur die hospitaalvenster as deur die kerkvenster. Mens sien jy Hom duideliker raak wanneer jy plat lê as wanneer jy regop staan. 'n Mens is broser wanneer jy plat lê. Ek het dit self ook al beleef: die wag, die stiltes, die vrae maar ook die aanvaarding en verwondering.
My hart gaan vandag sommer uit na elkeen iewers in 'n hospitaal of elkeen wat siek is by die huis; ook elkeen wat iewers die merkie van 'n ongeneeslike siekte sigbaar of onsigbaar in sy/haar lyf dra. Mag jy vandag vir God duideliker as ooit raaksien. Mag jy deur jou hospitaalvenster of kamervenster iets van God se hart vir jou en almal om jou, raaksien. Hy is nader as wat jy kan bid of dink. En mag jy ook die woorde hoor wat die melaatse man twee duisend jaar gelede gehoor het: "Ek wil, word gesond!" (Mat 8) Of, as jy dit nie hoor nie, mag jy dan soos Paulus hoor: "My genade is vir jou genoeg." (2 Kor 12).
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment