Almal is kwaad

Vrydag refleksie - 28 Maart

Dit voel vir my of die wêreld lanklaas so deurmekaar was soos nou. Almal is kwaad vir almal. Rusland en Oekraïne is lankal kwaad vir mekaar. Israel en Gaza is vandat ek kan onthou al kwaad vir mekaar. En nou is die VSA en Suid Afrika ook kwaad vir mekaar. Op tuisfront is almal kwaad vir Afriforum en Eskom. Dis 'n kwaad wêreld.

Dis nie net lande en politieke groepe of rassegroepe wat kwaad is vir mekaar nie. In baie families is mense kwaad vir mekaar. In sommige gesinne kom die een boetie nie kuier as die ander boetie daar is nie - hulle is kwaad vir mekaar. In baie huise is pappa en mamma kwaad vir mekaar; dikwels is pappa die kwaad een. Soms hang daar vir dae lank so kwaad wolk in 'n huis of in 'n werkplek.

Daar is 'n gesegde wat sê: hy word nie kwaad nie; hy IS kwaad. Jy kry mense wat net altyd kwaad is. Hulle is kwaad vir die regering; kwaad vir die ekonome; kwaad vir die kerk en kwaad vir almal om hulle. Dis nie lekker om saam met kwaad mense te bly of te werk nie. Kwaad mense sê dikwels ook nie waaroor hulle kwaad is nie (ek dink hulle weet dalk self ook nie?); hulle is sommer net kwaad. Almal om hulle moet op eiers loop.

Die Here wil nie hê ons moet kwaad mense wees nie. Hy sê ons moenie kwaad word nie, en as ons wel kwaad word (want dis menslik om kwaad te word), moet ons pasop om nie sonde te doen nie (Efe 4:26). Dink maar aan Kaïn wat kwaad geword het omdat sy offer nie aanvaar is nie (Gen 4) - hy het 'n duur prys betaal. En moenie 'n dag kwaad afsluit nie (Efe 4:26). Maak vrede voor jy gaan slaap. Laat jou kwaad-wees tye kort wees. En dink mooi wat jy doen of sê in jou kwaad-wees tye. 

Die Prediker (7:9) sê ons moenie gou kwaad word nie, net 'n dwaas word gou kwaad. Dis normaal en menslik om kwaad te word, maar moenie 'n kwaad mens wees nie. Wees vriendelik, "slow-angered", vergewe, laat gaan, beweeg aan...

Hoop jy het 'n vriendelike Vrydag!

Mooi dag!

Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...