Gesinsdag

Dis goed dat die dag na paasnaweek juis "gesinsdag" genoem word en dat dit 'n vakansiedag is. 'n Mens is half moeg na paasnaweek. Dit was 'n rowwe tyd. Die afgelope weke het ons stilgestaan by Jesus se lyding; die afgelope sewe dae en die naweek by die kruis en opstanding. En nou is dit gesinsdag.

Na Jesus se opstanding is die dissipels terug na Galilea - terug na hulle huise en werkplekke. Hulle het weer gaan doen wat hulle altyd gedoen het: visvang op die meer van Galilea (John 21:1-2). 

Dit herinner my dat ons nie permanent kan stilstaan by die lyding en sterwe van Jesus nie. Ons kan nie by die kruis en die graf bly nie. Ons moet teruggaan. Die lewe gaan weer voort, soos na 'n geliefde se begrafnis. En waar is 'n beter plek om te begin as in my eie gesin? Die hier waar ek die kruis en opstanding moet leef.

"Charity begins at home" lui die gesegde. Die opstandingslewe begin in ons eie huise: tussen 'n man en vrou en tussen ouers en kinders. Paulus skryf dat ons nou ons vrouens moet liefhê soos Christus die kerk liefgehad het. Vrouens moet aan hulle mans onderdanig wees soos die gemeente aan die Here (Efe 5). Kinders moet gehoorsaam wees aan ouers en ouers moet mooi met hulle kinders leef (Efe 6:1-4).

Dis goed om na hierdie intense, emosionele, geestelike tyd sommer net weer by ons gesinne uit te kom. Gaan stap vandag saam met jou huweliksmaat of kind (of ouer) langs die see; ry 'n draai in hierdie pragtige omgewing; vang vis (soos Petrus); braai 'n vleisie of eet sommer net 'n roomys. Geniet die lewe saam met jou geliefdes (Pred 8:7-9). Onthou dat sulke tye kosbaar en spesiaal is.  

Dis nie net die dinge by die kerk wat heilig is nie; gesinstyd is ook heilig. Man en vrou se tyd saam is heilig. Ouers en kinders se saamtyd is heilig. Om die waarheid te sê: Jesus het die hele lewe kom heilig. Daarom skryf Paulus: "Of julle eet of drink of wat julle ookal doen, doen alles tot eer van God" (1 Kor 10:31). 

Mag julle 'n spesiale gesinsdag hê.

Groete, Coenie


https://youtu.be/r0T8FtLCeQc?si=Cee9k_YcGOpDayJl

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...