Huistoe

Vrydag refleksie - 11  April 2025

Dis Vrydag. Baie kinders wat in koshuise bly, gaan vandag huistoe. Ek ken verskeie mense wat nou se dae ver van die huis af werk en net naweke huistoe gaan. Vlugte op Vrydae is duurder omdat so baie mense op Vrydae huistoe gaan.

Daar is min dinge so lekker soos om huistoe te  gaan. Waaraan dink jy as jy die woord "huis" hoor? In Engels onderskei ons tussen 'n "house" en 'n "home". Dit gaan nie oor die huis nie maar oor die "home", die tuiste.

Daar is baie liedjies wat praat van huistoe gaan: "Country roads, take me home", "the green, green grass of home", "hey, it's good to be back home again", "Five hundred miles from home", ens. In Afrikaans kry ons dit in liedjies soos "Ek wil net huistoe gaan" (Koos Kombuis & David Kramer), Huistoe (Riana Nel), Huistoe (Gé Korsten), ens.

Om huistoe te gaan, gaan meesal nie oor die huis self nie maar oor die mense by die huis. Dis die verskil tussen "house" en "home". In Laurika Rauch se nuwe lied "Huis" vertel sy van die huis waar die dak lek, die mure breek, die verf dop af, die trappe kraak en die teëls is los, maar dis huis want daar is liefde. Daar is mense wat vir mekaar lief is. Daarom is dit veilig en warm al lek die dak. Dis "home". Iewers in die liedjie sing Laurika: 
"Leer jy nie jou les nie?
Dis nie 'n adres nie:
dis jou mense wat jou huis is".

In die verhaal van die verlore seun (Luk 15) word baie min (eintlik niks) gesê oor die huis en die adres waar die pa en sy twee seuns gebly het nie, maar daar word baie gesê oor die Vader self. Die seun het nie teruggaan na die huis (gebou) waar hy vroeër gebly het nie; hy het teruggaan na die Vader van die huis. "Ek sal opstaan en teruggaan na my pa toe" (Luk 15:18).

Ek het grootgeword in 'n klein huisie in die weste van Pretoria. Vir die grootste deel van my grootword-jare was ons drie seuns saam in een klein kamer. Dalk het ons arm grootgeword, maar die klein huisie was meer as 'n klein huisie, dit was 'n "home". Daar was liefde en omgee. Nadat ek en Tersia getroud is, het ons nog vir baie jare een naweek 'n maand "huistoe" gegaan. Die huis is vandag steeds daar, maar my ouers is nie meer daar nie. Dis nou net 'n huis.

As die Bybel oor die Hemel praat, word daar min vertel van die huis waarheen ons gaan.  Ons weet net dis 'n huis met baie kamers (Joh 14). Daar word baie meer vertel van die Vader self: Sy hart, Sy liefde, Sy genade, Sy droom dat alle mense huistoe moet kom. Ons gaan nie eendag na 'n huis toe nie; ons gaan na 'n "home", 'n tuiste, 'n Vader. Nie net vir 'n naweek nie, maar vir 'n ewigheid. Ons gaan tuiskom, afpak, en vir altyd bly. In my gedagtes sien ek 'n koolstoof met 'n ketel wat kook...en die koppies staan reg...

Lieflike naweek! Hoop jy kan by huis wees.
Coenie

https://youtu.be/EJfIuTwaP7c?feature=shared

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...