I have the problem with my eyes
Vrydag refleksie - 4 April 2025
Ek dink vandag weer aan die ou wat vroegoggend sy werkgewer geskakel het en gesê het dat hy nie vandag kan kom werk nie "because I have the problem with my eyes". Die werkgewer vra toe wat is fout met sy oë en hy antwoord: "I don't see myself working today".
Dit voel vir my ons bly in 'n land waar baie mense hierdie soort oogprobleme het: "I don't see myself working today". Ek lees die afgelope week van die beamptes by 'n Staatshospitaal wat agter die toonbank lê en slaap terwyl vyftien pasiënte sit en wag vir hulle leêrs.
'n Apteker in Pretoria vra eendag vir een van die boemelaars wat elke dag voor sy apteek sit en bedel, waarom hy nie 'n werk gaan soek nie. Ewe ernstig antwoord die man: "Maar meneer, ek hou nie van werk nie!"
Ons elkeen het al paaie gekruis met mense wat nie van werk hou nie; mense wat hulself nie vandag "sien werk" nie. Jy kry hulle in supermarkte, agter toonbanke, op boupersele...orals en in elke beroep. Hulle wil meer en meer geld en voordele hê, maar hulle hou nie baie van werk nie. "I have the problem with my eyes".
Christene behoort anders oor werk te dink. Werk is nie 'n straf nie; God self werk van die begin af (Joh 5:17). Ons werk want ons is Sy beeld. Die mens is op aarde geplaas om te werk (Gen 2:15). Na die sondeval het die balans tussen werk en vreugde skade gely. Die boer plant maar daar is nie noodwendig 'n oes nie. Die werkmemer werk maar word nie noodwendig mooi behandel nie of goed betaal nie. Ons moet hierdie balans probeer terugry.
Die Bybel vat dit nog 'n stappie verder: werk is nie net 'n opdrag nie; dis 'n roeping. Ons werk asof vir die Here (Efe 6:7). Om lui te wees, is sonde. Om jou werk net-net te doen, is ongehoorsaamheid. Om agter 'n toonbank te lê en slaap, is 'n onreg teenoor die mense wat voor die toonbank sit en wag. Eendag gaan ons ook rekenskap gee van die werk wat aan ons toevertrou was.
Lank terug het Martin Luther King gesê: "I have a dream" (28 Aug 1963). 'n Mens moet drome hê. Soos wat Martin Luther King 'n droom vir die VSA gehad het, het ons nuwe drome oor Suid Afrika nodig. Ek droom vandag van 'n dag waar elke mens wat wil werk, 'n werk sal hê. En ek droom dat elke mens wat 'n werk het, dit van harte sal doen asof vir die Here (Efe 6:7). Dink net hoe lyk 'n land waar mense hulle werk "van harte doen, asof Vir die Here".
Toe die Here vir Esegiël gevra het of hierdie bene weer kan lewe, het Hy geantewoord "nee Here, U weet dit" (Ese 37:3) - ek sou dieselfde gesê het. As jy vir my vra of my droom kan waar word en die werksetiek in ons land verander, sal ek net soos Esegiël antwoord: nee Here, U weet dit. Tog het die Here dit gedoen; Hy het die bene laat leef - Hy kan dit weer doen. Hy kan die onmoontlike doen. Hoop ek kan lank genoeg leef om dit te beleef...
Lekker werk!
Coenie
Comments
Post a Comment