Kruise
Ons leef in 'n wêreld waar kruise baie volop en algemeen geword het. In ons kerkgebou is daar verskeie kruise, onder andere in die voorportaal, in die loodglaswerk bo in die kerk, buite die gebedskamer en op die parkeerterrein. Ons sien ook dikwels kruise (met blomme) langs die paaie - 'n aanduiding dat iemand daar gesterf het. Baie mense het iewers in hulle huis een of meer kruise; dikwels dra vroue (of mans) 'n kruise om hulle nek of 'n tatoeërmerk daarvan op hulle lyf.
Die vroeë Christene het vir die eerste 300 jaar, nadat Jesus gesterf het, nie die kruis as simbool gebruik nie. Die grootste rede was dat dit 'n skande was om aan 'n kruis te sterf - amper soos 'n galg vandag. Wie wil nou vir almal vertel dat sy familielid of sy God aan 'n galg gesterf het? Maar daar was nog 'n rede: Christene is vervolg vir hulle geloof. Jy wil nie 'n teken dra wat jouself nog meer blootstel nie. Daarom is simbole van krag, oorwinning en vrede liewers gedra, maar nie kruise nie.
Dis eers na keiser Konstantyn se oorwinning in die 4e eeu en nadat die Christelike geloof staatsgodsdiens geword het, wat die kruis die algemene teken geword het van die Christelike geloof en van Jesus se kruisdood.
Die kruis word egter ook gevind in voor-Christelike en ook in nie-Christelike kulture. Ons sien vandag ook kruise orals, selfs om die nekke van mense (popsterre, akteurs en "celebrities") wat glad nie in Jesus glo nie. Dis belangrik om te onthou dat die simbool van die kruis nie aan ons (Christene en die kerk) behoort nie; dit het verskillende betekenisse vir verskillende mense. Dis dikwels vir ons nie lekker om dit te sien by mense wat nie in Jesus glo nie.
In hierdie lydenstyd bely ons weer dat die kruisiging van Jesus die hart van ons geloof is. Daarom het die simbool van die kruis vir ons amper 'n heilige betekenis. Ons dra dit versigtig. Ons mag nooit gewoond raak daaraan nie. Dit mag nooit "goedkoop" word nie. As ek 'n kruis dra, moet ek leef soos iemand wat deur Jesus se kruis(dood) verander is. En, anders as in sekere films en stories, is daar geen magiese krag in 'n kruis nie - dis net 'n simbool. Ek is nie "veiliger" as ek vandag 'n kruisie om my nek dra nie.
Eendag, iewers in die toekoms, wanneer Jesus terugkom, gaan die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn (Mat 24:30). Die antieke teoloë het geglo dit gaan 'n kruis wees. Of dalk juis nie? Ons sal moet wag en sien....
Mooi dag!
Coenie
https://youtu.be/OV7bLR93fsc?feature=shared
Comments
Post a Comment