'n Pou
Woensdag 9 April
Waarom word die pou so dikwels op ou grafte geteken? Ons vind die pou ook dikwels teen ou antieke kerkmure asook in versierde vensters? By baie kloosters in Griekeland word poue in hokke aangehou...waarom?
Dis interessant dat die Bybel nooit van poue praat nie. In die Ou Vertaling staan daar dat Salomo die skepe vol "ape en poue" gelaai het (1 Kon 10:22, 2 Kron 9:21), maar in die Nuwe Vertaling staan daar tereg "ape en bobbejane". Die King James Vertaling sê dat God vlerke aan die pou gegee het (Job 39:13) maar in die Ou en Nuwe Afrikaanse Vertaling staan daar tereg "volstruis" in plaas van "pou".
Waarom soveel uitbeeldings van poue op grafte as die Bybel nie eers van poue praat nie? Die antieke mens het geglo dat wanneer jy 'n pou slag, die vleis nie sleg word nie. Augustinus het selfs so ver gegaan om dit te toets en bevind dat dit regtig so is. Daarom het 'n pou die teken geword van onsterflikheid. Dikwels is 'n druiwetros saam met die pou geteken - dit wys na Jesus se bloed. Die betekenis staan in Joh 6:54 "Wie...my bloed (=druiwetros) drink, het die enige lewe (=pou)".
Die feit dat die pou elke jaar verveer was 'n teken dat die mens ook, na sy dood, nuut word. Die mooi van die vere was 'n teken van hoe mooi alles in die paradys gaan wees.
Die prentjies van poue op grafte en sarkofae was dus amper 'n visuele geloofsbelydenis oor ons onsterflikheid (agv Jesus se bloed), ons nuutword (verveer) en die mooi wat vir ons wag (die kleur van die vere). Hierdie prentjie het vir die familie wat agtergebly het getroos; dit het hulle herinner dat hulle geliefde vir ewig leef in die paradys - onsterflik.
Ons teken nie meer poue op ons grafstene nie, maar ons hou vas aan dieselfde waarheid as die vroeë Christene. Eendag, iewers in die toekoms, gaan elkeen van ons ook sterf - dit kom vinniger as wat ons dink. Maar elkeen wat in Jesus glo, sal aanhou lewe "al het hy/sy ook gesterwe" (Joh 10:25). Ons gaan verveer, nuut word; ons gaan mooier as ooit wees. Alles wat stukkend is gaan heel wees; alles wat seer was gaan weg wees. Geen kanker, demensie of Parkinsons; geen bewerige hande en slepende voete nie - niks nie. Die groot vraag is: "Glo jy dit?" (Joh 11:26).
Ek stuur vandag vir jou 'n pou sodat jy dit nooit sal vergeet nie...
Mooi dag,
Coenie
https://youtu.be/8cfZ36CTufU?feature=shared
Comments
Post a Comment