'n Vis
Ons het gister gesê dat die kruis eers 300 jaar na Jesus se kruisiging 'n belangrike simbool geword het. Watter simbool was voor dit dan gebruik?
Die oudste Christelike simbool was die vis. Dit was meer as net 'n simbool - dit was 'n geloofsbelydenis. Die vroeë Christene het 'n kort geloofsbelydenis gehad: "Jesus Christus is die Seun van God en Hy is Redder". As jy die eerste letter van elke woordjie in Grieks neem, spel dit IXTHUS - dit is die Grieks woordjie vir vis.
Dit was soort van 'n geheime kenteken van die Christene. As jy 'n vissie geteken het, het jy stilletjies gesê dat jy in Jesus glo. Dikwels het Christene met hul groottoon in die sand 'n vissie (lyk soos die Grieks letter Alfa) geteken om vir vreemdelinge te sê dat hulle Christene is.
Soms is die vis ook vir Christus self gebruik. Een van die kerkvaders, Tertullianus, verwys na Christus as "ons Vis". Op ander plekke word dit as 'n simbool vir 'n gedoopte Christen gebruik. Soos 'n vis nie buite die water kan leef nie, kan 'n Christen nie sonder die water van die doop leef nie.
So 'n klompie jare gelede het baie Christene begin om 'n vissie op die agterkant van hulle motors te plak, in navolging van hierdie gebruik. Ongelukkig het die vissie van links na regs geswem; die vroeë Christene se vissie het altyd van regs na links geswem.
Ek was altyd bang om 'n vissie op my motor te plak; vir ingeval ek dalk op 'n dag nie mooi bestuur nie. Ek moet in skaamte erken dat ek, in die spitsverkeer in Pretoria en Johannesburg, dikwels so 'n oomblik gehad het. Ek is daarom bly dat ek nie 'n vissie op my motor gehad het nie: dit sou soms meer skade as goed doen. Ek het te veel motors met vissies gesien wat nie mooi bestuur nie.
Hier in die lydenstyd, besef ek opnuut dat Jesus gesterf het vir al my sondes en oortredings. Hy het gesterf vir elke keer wat ek in stryd met my kenteken (die Vis) geleef het. Hy het al my onwaardige gedrag vergewe. Hy laat my toe, om ten spyte van my foute, met my groottoon 'n vissie in die sand te teken... Dis waarvoor Hy gesterf het: dit is genade.
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment