Vis en brood

Dagstukkie - 22 April

Ek ken 'n hele paar mense in die gemeente wat lekker vis kan braai. Visbraai is soos vleisbraai - elkeen het sy eie manier van braai.  Een braai die vis net so - niks speserye en goeters nie. Ander gooi bietjie sout op; ander gebruik botter en appelkooskonfyt, of suurlemoensap. Daar is min dinge so lekker soos 'n vis op die kole. 

Ek wonder wat was Jesus se resep? Hoe het Hy vis gebraai? Johannes vertel vir ons dat Jesus na Sy opstanding vir die dissipels vis gebraai het (Joh 21). Hulle was die hele nag op die see en het aanvanklik niks gevang nie. Toe hulle terugkom, wag Jesus vir hulle met 'n heerlike vis wat Hy op die kole gebraai het - daar langs die see van Galilea. Dalk het Hy dit gereeld gedoen? Dalk was dit juis Sy manier om vir hulle te wys dat dit Hy was.

Het jy al ooit aan Jesus gedink as die Een agter die braaier? Die Een met die voorskoot? Die Een wat graag vir Sy vriende kosmaak?  Daar is niks bonatuurliks aan visbraai nie - dit is dus nie een of ander bonatuurlike teken nie.  Maar dit sê iets van omgee, sorg, gasvryheid en liefde, soos 'n vrou wat elke dag vir haar gesin kosmaak.

Wat ek in hierdie verhaal sien is Jesus se hart vir Sy dissipels. Hy weet hulle was heelnag op die see en Hy weet hulle is honger - en dit maak vir Hom saak. Maar meer as dit: Hy het uitgesien om weer saam met hulle te eet. Hierdie keer is Hy nie die Jesus wat binnekort gaan sterf nie; Hy is die Jesus wat opgestaan het uit die dood. Dis 'n oorwinningsmaaltyd. Dis 'n ete saam met die opgestane Here! En dis 'n bewys dat Hy nie 'n spook is nie (Luk 24:37).

Ek vermoed die dissipels het in die jare daarna, elke keer wanneer hulle vis gebraai het, teruggedink aan Jesus se opstanding en daardie oggend langs die see van Galilea. Ek was self al by Tabhga, die plekkie langs die meer waar Jesus die vis gebraai het. Die prentjie van Jesus wat vir Sy dissipels vis braai, pas vir my by my prentjie van God - die Een wat vir ons almal sorg. 

Dalk moet ons iewers in hierdie week, net hier langs die see, 'n vissie braai...saam met brood, en Jesus se opstanding vier.

Groete en mooi dag!
Coenie

Ek som dit op in 'n gediggie:

Net daar,
langs die see
met kole en vis
het U Vir ons kom wys
wie U is.

Vandag,
is ek steeds verstom
dat U vroeg-oggend
langs die see
ook na my toe kom.

https://youtu.be/6xi5i3dAjV8?feature=shared

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...