Woede op Vryheidsdag

Vrydag refleksie - 25 April

Eerskomende Sondag is ons nuwe demokrasie 31 jaar oud. Die meeste mense is op 31 al volwassenes; baie van hulle het hulle eie loopbane en dikwels reeds hulle eie gesinne. Hulle neem verantwoordelikheid vir hulle eie lewens. Sou 'n mens dieselfde kon sê van ons demokrasie? Is dit 'n prentjie van verantwoordelike volwassenheid?

Ek moet herken dat ek teleurgesteld is met baie dinge - soos meeste ander mense wat ek ken. Dis eintlik meer as teleurstelling - soms is daar in 'n mens se hart 'n klompie woede oor die vergrype, korrupsie,  misbruike, uitbuiting en swak bestuur. Dink maar aan die verval in so baie staatsinstellings, die sukkelende munisipaliteite en die toenemende staatstoelaes as gevolg van werkloosheid.

Cas Wepener het 'n klompie jare gelede 'n boek geskryf met die titel "Kookpunt". In hierdie boek beskryf hy die onderliggende woede wat tans in baie mense in Suid Afrika se harte lê. Hierdie mooi land moes na 31 jaar baie mooier gewees het. Dit moes 'n volwasse demokrasie gewees het. Daar moes meer welvaart vir almal wees, meer werksgeleenthede, beter onderwys en mediese dienste.

Cas skryf in hierdie boekie dat dit normaal is om woede te beleef oor sulke dinge. Dr. Rassie van Niekerk praat van "heilige woede". In die kerk is daar dikwels min ruimte daarvoor. Ons wil graag hê almal moet gelukkig en tevrede wees - niemand moet kwaad word nie - dalk omdat ons woede of kwaad word net sien as sonde?

Daardie dag toe Jesus 'n sweep gevleg het en die tempel gereinig het, was dit nie juis ook omdat die gewone mense wat kom offer het, uitgebuit is nie? Daarom noem Hy dit 'n rowersnes. Moet ons nie ook 'n heilige woede hê oor die onreg teenoor die gewone mense van ons tyd nie? Op Vryheidsdag is miljoene mense steeds nie vry nie. Hulle kan 'n kruisie trek, maar hulle is nie vry nie.

Wat doen 'n mens met hierdie woede in jou? Die Bybel waarsku ons dat woede maklik kan lei tot sonde en ellende. Die Psalmdigter skryf: "Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende" (Ps 37:8). Paulus skryf: "As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie" (Efe 4:26). Daarom is dit goed dat 'n mens jou woede voor die Here bely: "Here, ek voel so teleurgesteld oor sommige dinge in ons land. Here, U ken my woede, my aggressie, U weet ek voel teleurgesteld en kwaad...".

Die ou Latynse uitdrukking lei: Bid en werk. Dis nie genoeg om net my woede voor die Here te bely nie - ons moet ook iets doen. Ek kan 'n verskil maak; ek kan iemand anders se lewe beter maak.

Ek bid vandag dat die Here vir ons leiers gee met integriteit; leiers wat sal omsien na al die mense in die land; leiers met waagmoed; leiers wat werk skep; leiers wat opbou in plaas van afbreek; leiers wat hierdie land mooier sal maak; leiers wat God volg in woord en daad.

Bid saam met my dat daar 'n nuwe Vryheidsdag sal aanbreek en dat almal in hierdie land werklik vry sal wees...

Groete, Coenie

https://youtu.be/ZJ_CRp5ufTo?feature=shared

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...