Ek bid in Afrikaans
Ek onthou die eerste keer wat ek in Engels moes bid: "We thank you Lord that we can be gathered here today..." maar toe is my Engelse woorde opgebruik. Ek was 'n jong kapelaan en ry die Sondagoggend vroeg na 'n groep manne wat besig was met opleiding in die veld. Ek het 'n preek voorberei uit Job. By my aankoms vind ek uit hulle is engelssprekend. Ek het nie eers geweet wat is Job in Engels nie, wat nog van die res van die preek. Maar deur die Here se genade het ek vir hulle in gebroke Engels gepreek uit Job. Ek is nie seker of die Here daardie dag 'n hoorwonder (Hand 2) of 'n spreekwonder (1 Kor 12) gedoen het nie, maar dit bly 'n wonder dat hulle my verstaan het.
Dit bly maar moeilik om in 'n ander taal as jou moedertaal te bid. Daar is dinge wat ek net in Afrikaans kan sê. My diepste emosies kan ek net in Afrikaans sê. Ek kan ook nie in Engels huil nie of baklei nie. Dis vandag vir my baie makliker om in Engels te lees en te bid, maar my eie binnekamer is Afrikaans. Wanneer ek alleen met die Here praat, is dit in Afrikaans...en Hy hoor en verstaan my.
Martin Luther het hierdie ding mooi verstaan. Hy was 'n Duitser maar moes die Bybel in Latyns, Grieks en Hebreeus lees. Daarom het hy die Bybel in Duits vertaal. Hy wou hê elke mens moet die Bybel in sy/haar eie taal lees. Na Martin Luther se Duitse vertaling is die Bybel al in honderde tale vertaal.
Afrikaans was gister amptelik 'n honderd jaar oud. Dis die jongste amptelike taal in die wêreld. Vanaf 1933 het ons ook 'n Bybel in Afrikaans. Dis 'n voorreg om God se Woord in jou eie taal te lees; om kerk te hou in jou eie taal. Meeste van alles, dis wonderlik om te kan bid in jou eie taal.
Ek hou van Engelse liedere saam met die Afrikaanse liedere; ek hou van Engelse gedigte en voorlesings, en ek praat vandag al heel gemaklik Engels. Ek het al honderde openings en aanbiedings in Engels gedoen. Maar wanneer ek met die Here praat oor die diepste dinge in my lewe, is dit in Afrikaans. My diepste skuldbelydenis voor die Here was in Afrikaans; my smeekgebede vir my kinders is in Afrikaans; my grootste bewondering vir God vind uitdrukking in Afrikaanse woorde en sinne.
Ek is vandag sommer net trots en dankbaar. Ek dank God vir hierdie mooi taal waarin ek Hom kan aanbid.
Mooi dag!
Coenie
"Met my beperkte Afrikaanse woordeskat
kom vra ek dat
U vir ons sal seën -
ook hier,
in Onrusrivier."
Comments
Post a Comment