'n Paspoort vol stempels

Vrydag refleksie - 2 Mei

Ons hou van rondry. As ons kon sou ons elke dag iewers heen gery het. Ons gesin se leuse was nog altyd: "The joy is in the journey". Ons kinders het grootgeword in karstoeltjies. Vir ons begin vakansie nie wanneer ons by die vakansiebestemming aankom nie, maar wanneer ons vertrek. Die ry en die langpad is deel van die vakansie.

Een van ons geliefde tannies in Potch (tannie Massie), het die lekkerste padkos gemaak en dit sorgvuldig gepak met driehoek-broodjies (sonder korsies), gekookte eiers, wors, hoenderboudjies, koue vleisies, kasies, yoghurt, servette en klein sout en peperpotjies. So 10km buite Potch het sy altyd gesê: "Ons kan seker maar solank ietsie eet...". Sy was natuurlik die kinders se held. Van daardie oomblik af was dit een groot fees.

Ek sien in die afgelope tyd 'n mooi prentjie op Facebook met hierdie woorde: "I'll rather have a passport full of stamps than a house full of stuff". Ek het al baie mense ontmoet wat in baie lande was en ek dink dit moet wonderlik wees; soos my ma altyd gesê het - ek beny hulle. My paspoort het net 3 stempels: Lesotho, Namibië en Israel. Maar as daar 'n binnelandse paspoort was, sou my boekie propvol wees. Ons het nie baie besittings nie, maar ons het baie 'memories'. Baie vakansies, staptoere, dag-uitstappies, avonture, noem maar op. 

Is dit nie waar van die lewe self nie? Dis nie die besittings wat ons gelukkig maak nie maar die herinneringe. Dis nie soseer die kar waarmee ons gery het nie, maar die plekke waar ons was, en die mense saam met wie ons daar was: ons ouers, ons kinders, vriende, gemeentelede... Daar was baie kosbare oomblikke: koffie drink, kuier om die tafel, stilhou by 'n padstal, wandel in 'n voetpaadjie, uitkyk vanaf 'n hoë berg, swem in 'n rivier, wyn proe, stap langs die see.

Ek hou later vanoggend 'n tannie (89) se troosdiens. Ek het haar nooit geken nie, maar die foto's teen mure in hulle huis vertel van 'n vol lewe: vakansies, staptoere, saam-tye. They lived the journey. Haar gesin sal haar mis, maar hulle het baie herinneringe - dit bly vir altyd. Die foto's wys dat sy voluit geleef het.

Daarom, leef vandag voluit. Gryp elke oomblik. Geniet die reis. Waardeer die mense wat saam met jou op reis is; geniet hulle teenwoordigheid, hulle menswees. Hou baie stil. Skep herinneringe. Leef lig. Gee weg. Leef in die oomblik. Wees bly.

Die Prediker sê dis 'n gawe uit die Here se hand om voluit te leef en die lewe te geniet (Pred 2:25; 3:13; 11:9). Gister, op 1 Mei het ons weer die Bee Gees se lied, "First of May", geluister. Die lewe gaan gou verby. Ons word groter en die kersbome word kleiner.

Iewers, in elkeen van ons se lewe, gaan elkeen van ons in 'n klein kamertjie intrek, waar daar net plek vir 'n bed en 'n kassie is. Wanneer ons niks anders meer het nie, sal ons besef hoe kosbaar die herinneringe is...

Mooi dag!
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...