Bedelaars op straathoeke

Ons het al gewoond geraak daaraan dat daar op elke hoek iemand staan met 'n bordjie in die hand: "Enige donasie welkom" of "werkloos, vrou en twee kinders". Dikwels is die laaste sinnetjie "God bless you" of iets soortgelyk. Ek het al selfs 'n bordjie gesien wat sê: "Te lui om te werk maar te eerlik om te steel".

Wat doen 'n mens? Party mense sit in hulle motor en kyk net strak voor hulle uit - probeer om nie oogkontak te maak nie. Ander draai die ruit effens oop en gee 'n toebroodjie of 'n vyf rand. Sommiges probeer argumenteer maar dit help meesal nie baie nie. 

Mense vra dikwels vir my: "Dominee, moet ons vir almal iets gee?". Dis nie 'n maklike vraag nie. Wat dit moeiliker maak is dat daar in die groter stede op elke hoek iemand staan. Dis nie net 'n vraag of jy moet help nie, maar of jy op elke hoek moet (of kan?) help.

'n Mens voel eintlik so magteloos omdat die probleem so groot geword het. Soms word ek kwaad want dit voel of ek geboelie word. Ander kere, wanneer ek tyd (en energie het), probeer ek ook gesels en uitvra. Ander kere is ek opstandig dat die samelewing so moet wees. Maar soms breek my hart vir 'n sekere persoon, en dan help ek graag. 

Ek het al dikwels gewens dat ek kon sien hoe dit was toe Jesus op die aarde was. Het Hy vir elke bedelaar gegee wat iets gevra het - Hy kon immers die brode en vissies elke dag  vermeerder as Hy wou? Het al die bedelaars na Hom gestroom omdat Hy almal help het? Was Kapernaum se straathoeke daardie drie jaar vry van bedelaars? Of het Hy, wat ook volledig mens geword het, net soos ons, soms kwaad of moedeloos geword met die situasie? Hoe het Jesus dit hanteer? Wens so ek het geweet...

Ons het al bedelaars in ons huis geneem, vir hulle blyplek en werk gekry, hulle vriende geword en gevoel dat ons iets reggekry het, net om later weer te hoor dat "die pad roep ons". Hulle het alles gelos en weer teruggaan na die pad en die robotte. Dis 'n tipe lewe waarvan jy nie maklik loskom nie. Dikwels speel drank 'n groot rol. 

Moet ons help? Ek kan nie vir ander mense besluit nie. Maar ek onthou dat Jesus gesê het: Ek was honger en julle het vir my iets gegee om te eet (Mat 25:35). Ek onthou ook dat Paulus geskryf het: Wie nie wil werk nie, moenie eet nie (2 Tes 3:10); en, wys die leegleêrs tereg (1 Tes 5:14). Daarom vertrou ek die Here om vir my te wys waar en wanneer ek moet help. Sy Gees lei ons ook hierin. Hy help ons om te onderskei. Hou daarom altyd 'n paar muntstukke in jou motor...

Sterkte en mooi dag!

Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...