Jeugdag 16 Junie

Dis 16 Junie. Ek het jare gelede op hierdie dag die Comrades marathon gehardloop. Dis jeugdag. Maar dis 'n dag wat gelaai is met soveel bagasie uit die verlede. Daar word vandag landwyd feeste gehou en toesprake gemaak. Die verlede word weer en weer in herinnering geroep; dikwels misbruik om die vuur van verdeeldheid aan die gang te hou.

Ek dink vandag nie soseer aan die verlede en die stories agter 16 Junie nie. Ek dink baie meer aan ons eie kinders en ons gemeentekinders. Ek dink aan die komplekse tyd waarin ons leef en die uitdagings (en versoekings) waarmee ons kinders elke dag te doen kry. Dis 'n ander wêreld as die wêreld waarin ons opgegroei het. 

Die uitdaging vir 'n Christen jongmens is egter steeds dieselfde as vyftig of honderd of drie duisend jaar gelede: hoe sal 'n jongmens Sy lewe skoon hou? (Ps 119:9). Dis die groot vraag. Die antwoord is ook steeds dieselfde: deur die te hou na U Woord (Ps 119:9). Die antwoord het nie verander nie. Ja, dis nie maklik nie, maar dit was nog nooit maklik nie. Die breë pad het nog altyd makliker en lekkerder gelyk. Maar die uiteinde daarvan is nie mooi nie.

Op jeugdag dank ek die Here vir my eie kinders en ons gemeentekinders. Ek kan Onrusrivier gemeente nie indink sonder kinders en jongmense nie. Hulle is nie die kerk van die toekoms nie; hulle is reeds deel van die kerk. Hulle is kerk in 2025. Hulle moet geleidelik die stokkie oorneem. Daarom is ek dankbaar vir Anton en die kinder-/jeugleiers: ons waardeer julle.

Ons bid vandag vir ons jongmense en ons jeug. Ons bid vir ons jeugbediening en jeugleiers. Ons bid vir ons onderwysers. Ons bid vir ons eie kinders en al die kinders in ons dorp en land. Ons bid op hierdie dag vir die miljoene kinders in oorlog-geteisterde lande. 

Dana Winner sing wat vandag in my hart is - ek stuur dit vir julle. Sing saam en bid saam.

Geseënde jeugdag!

Coenie

https://youtu.be/GhQq2Fp78t4?feature=shared

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...