Kyk daai tannie se hare!

In die afgelope week, terwyl Tersia by die kassier in die supermark staan, hoor sy die dogtertjie agter haar in die ry. "Mamma, kyk daai tannie se hare!", sê die dogtertjie vir haar ma en beduie na Tersia. Haar ma help haar saggies reg: "Sjuut, mamma het jou mos geleer mens kan dink wat jy wil maar nie sê wat jy wil nie". 

As ons eerlik wil wees, moet ons erken dat ons almal heeltyd waarneem. Ons sien mense met baie hare; ons sien kaalkoppe. Ons sien maer mense en vet mense, kort mense en lang mense. Ons sien mense van verskillende kleur en postuur. Een van ons kinders het kleintyd na 'n Chinese seuntjie in 'n winkel gewys en gevra waarom sy oë so "skrefies" is. Dis normaal om waar te neem en te ontleed. En dis nie verkeerd nie. Elke mens lyk anders. 

Die Bybel vertel byvoorbeeld dat Lea sagte oë gehad het; Ragel het 'n mooi lyf gehad, Esau was harig; Dawid was rooi van velkleur, Salomo was mooier as almal en Moses het gehakkel. In een van die buite-Bybelse briewe wat behoue gebly het lees ons hoe Paulus gelyk het: min hare, krom neus, aanmekaar ooghare en "knock knees". Al hierdie dinge is waarneembaar en dis nie verkeerd of sleg nie. Dis wie ons is.

Maar die mamma se raad aan haar kind is ook baie waar. Jy kan dink wat jy wil maar nie sê wat jy wil nie. Woorde kan baie maklik seermaak of kwes (Spr 26:23-24). Daarom neem ons waar, maar sê nie alles wat ons sien of dink nie. Die Gees wat in ons bly, neem nie ons waarneming weg nie, maar laat ons met nuwe oë of ander oë kyk. Ons sien steeds wat ander mense sien, maar ons sien dit "saggies". Ons probeer onsself indink in iemand anders se skoene.

Daarom sê ons nie alles wat ons waarneem of dink nie. Ek wanneer ons wel vertel wat ons waarneem, doen ons dit met begrip en fyn aanvoeling (Fil 1:9). Ons gebruik dit nie as wapens nie. Ons werk sag daarmee. Ons kyk liefdevol (1 Kor 13). Een van die tannies vir wie ons lief was en by wie ons gereeld gekuier het, het my altyd so in die heup geknyp en gesê: "Jy word lekker vet...oumenslyf!" Dit was snaaks maar dit was nie lekker nie.

Terug by die dogtertjie in die supermark. Tersia het gemaak of sy niks hoor nie maar ons het later lekker gelag daaroor. Die dogtertjie was beskrywend, nie beledigend nie. Kinderlike onskuld. Ons mag ook beskrywend wees maar nie beledigend nie. "Praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goed kan kom" (Efe 4:29).

Sterkte en mooi dag!

Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...