Aan wie se kant?
Ek het al baie kinderdienste oor Dawid en Goliat gehou. Wat my opval, is dat ek nog nie een kind gesien het wat aan Goliat se kant is nie. Om die waarheid te sê, al die grootmense is ook aan Dawid se kant. Hoekom?
Miskien sien ons in Goliat iets van die boelies in ons eie lewens. Hy is groter as almal om hom, waarskynlik sterker ook, en hy weet dit. Hy terg en beledig en daag uit. Hy loop oor mense. Ons almal het al paaie gekruis met sulke mense. Hulle loop oor jou omdat hulle groot is of geld het of in ’n magsposisie is.
Maar ek dink dis belangrik om te erken dat ons in elke storie aan iemand se kant is. In Dawid se verhaal is ons aan Dawid se kant; wanneer die Farao die Israeliete agternasit, is ons aan die Israeliete se kant. In die Rigterboek is ons aan Gideon se kant teen die Midianiete en later aan Simson se kant teen die Filistyne. Dis normaal om aan iemand se kant te wees – ’n mens kan nie ’n draadsitter wees nie.
In die gewone lewe vandag, kies ons ook kante. Kleintyd was ons aan die Cowboys se kant teen die crooks. Meeste van ons gaan waarskynlik Saterdag aan die Springbokke se kant wees. Maar daar is ook moeiliker kante. Dalk is jy aan die Oekraïene se kant, of dalk aan Rusland se kant; dalk lê jou hart meer by die Jode of dalk meer by die Palestyne; Israel of Iran. Elkeen van ons skaar onsself by een van die politieke partye in ons land. Sommiges is vir WOKE; ek is daarteen.
Dis normaal om ’n kant te kies. Dis belangrik om keuses te maak en te weet waarvoor jy staan. Maar dis ook belangrik om te weet dat almal nie dieselfde keuse as ek maak nie. Ek moet ruimte maak vir ander se keuses, al stem ek nie saam nie. Ek stem net vir een party, maar ek bid vir al die partye. Ek kies iemand se kant in die oorlog, maar ek bid vir almal in die oorlog.
Terug by Dawid en Goliat: dalk is ons almal in Dawid se kant, nie omdat hy kleiner as Goliat is nie, maar omdat hy die goeie ou in die storie is. Hy beledig nie; hy vloek nie; hy gaan veg in die Here se krag. Teoreties het hy nie ’n kans om te wen nie, maar hy wen. Ons weet hy was aan God se kant en God was aan sy kant, daarom is ons aan sy kant.
Alle keuses is nie so maklik en duidelik nie...ons weet nie altyd wie aan God se kant is en aan watter kant God is nie...
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment