Die waarheid maak vry
Wat 'n week. Dit het begin met 'n onverwagse weerligstraal Sondagoggend vroeg. Ons het meer as drie jaar gelede in die Transvaal laas so 'n harde slag gehoor. Agri (reg langs ons) se dak is getref en die stene is twee erwe ver geslinger - hulle was dae lank sonder krag en internet.
In Texas was dit 'n week van die ergste vloede denkbaar: baie skade en baie lewensverliese. Hartroerende verhale van kinders op 'n jeugkamp wat nooit weer huistoe sou kom. Huise en motors wat wegspoel; daklose mense. Ook in die Kaap en Ooskaap het vloede groot skade aangerig.
In ons eie land gons dit oor 'n polisie-generaal se perskonferensie (ek haal my hoed vir hom af) en die beweringe dat die minister en ander hooggeplaaste offisiere betrokke is by misdaad-sindikate. Die minister en die betrokke kommissaris ontken dit ten sterkste - hulle "ken" nie eers die mense oor wie dit gaan nie. Ons het al gewoond geraak aan hierdie soort antwoorde. 'n Mens wonder wat is die waarheid...
In die afgelope week het die vraag na die Jeffrey Epstein-naamlys weer hoofnuus geraak. Mense wil die waarheid weet maar iemand is nie eerlik nie. Dit lyk asof die waarheid nooit gaan uitkom nie.
Dis asof die "waarheid" vandag 'n skaars ding geword het. Dis 'n oneerlike wêreld - 'n wêreld vol halwe waarhede en leuens. 'n Mens wil soms soos Pilatus van ouds vra: "Wat is waarheid? (Joh 18:38) Wat is die waarheid oor die polisie, oor Epstein, oor Phala-Phala, oor die Lotto-tender en baie ander dinge? Sal ons ooit die waarheid weet?
Elkeen van ons moet natuurlik ook hand in eie boesem steek. Hoe eerlik is ek met ander mense? Hoe eerlik is ek met geld en besigheid? Hoe eerlik is ek teenoor my werkgewer? Hoe eerlik is ek teenoor my huweliksmaat? Leef ek die waarheid of leef ek 'n leuen?
Wat is die waarheid, vra Pilatus. Die waarheid staan reg voor hom (Joh 14:6). Die waarheid is 'n persoon. As ek in Hom glo, is daar nie meer plek vir leuens in my lewe nie. Hierdie lewe-in-die-waarheid maak 'n mens vry (Joh 8:32). Jy leef nie in vrees nie want jy het niks om weg te steek nie.
Ek moet iets bely. Ek het kleintyd 'n kind wat langs ons gewoon het, se karretjie gevat (gesteel). Elke keer, wanneer ek 'n "polisiekar" gesien het, het ek gedink hulle kom my haal. Ek het in vrees geleef, totdat ek die karretjie teruggegee het. Die waarheid maak vry. Kies vandag om in die waarheid te leef en te bly...
Mooi dag,
Coenie
Comments
Post a Comment