Vriende
In my eerste week in graad een het ek maatjies gemaak met Kobus. Hy was, sover ek kan onthou, my eerste "maatjie". Mettertyd het ek nog maatjies bygekry, maar Kobus was vir jare my beste maatjie.
In die hoërskool het ons nie van maatjies gepraat nie, maar van vriende. Kobus was nou my vriend. Ek het 'n klomp nuwe vriende gekry. Op universiteit het ek nog vriende gekry en by die verskillende plekke waar ek gewerk het, ook weer baie nuwe vriende.
Langs die lewenspad maak 'n mens baie vriende. Dit bly altyd vir my 'n misterie hoedat jy in elke groep mense vind waarmee jy sommer net vriende word - mense wiese menswees jou aantrek. Dis 'n voorreg om vriende te hê.
Alle vriendskapppe is nie dieselfde nie. Sommige vriende is daar vir 'n sekere seisoen in 'n mens se lewe. Hulle is nie noodwendig jou vriende in 'n volgende seisoen nie. Dikwels ontgroei 'n mens sommige vriende - dis normaal. Daar is ook vriende wat vir altyd bly. Hulle raak deel van jou lewe en jou lewensreis. Hulle word saam met jou oud.
Tussen al die vriende op 'n mense se pad daar enkele vriende wat jy toelaat in jou diepste hartskamers. Hulle ken jou beter as enige iemand anders. Hulle ken jou vreugdes, jou stryd, jou bekommernisse. Hulle bid vir jou, bemoedig jou en ondersteun jou - deur dik en dun. Ek dink dis die vriende waarvan ons lees in Spreuke 18:24b: "...daar kan ook 'n vriend wees wat nader is as 'n broer". Dis die mense wat hulle lewens aflê vir hulle vriende (Joh 15:13).
Sê vandag vir die Here dankie vir jou vriende: die vriende wat daar was in 'n spesifieke seisoen van jou lewe - dat hulle wel daar was; die vriende wat 'n stukkie van jou lewensreis kon saamreis; die vriende wat daar is tot die einde van jou reis. Maar sê vandag spesiaal dankie vir daardie klein groepie vriende wat jy kan vertrou in jou binneste hartskamer - hulle is 'n geskenk van die Here.
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment