Geen wit sakdoekies wat waai...

Vrydag refleksie - 22 Aug

Ek het iewers hierdie week 'n beriggie op sosiale media gesien wat vertel van tegnologie wat iewers in die toekoms kan maak dat die mens vir altyd leef. Hoe waar die beriggie is, weet ek nie. Dis mos deesdae moeilik om te weet wat feite is en wat fiksie is. 

Maar, kom ons wees maar eerlik, dit sou lekker wees om vir altyd te leef. Soos wat ek ouer word voel dit vir my al hoe meer of die lewe op aarde net te kort is. Ek sou my vrou graag vir altyd wou hê, of ten minste baie langer. En dit sou lekker wees om jou kinders en kleinkinders te sien oud word, of dalk jonk te bly saam met hulle. Ek sou graag lank genoeg wou leef om een vakansie op Mars te hou en dalk die eerste ontmoeting met "aliens" te beleef. 'n Mens mag seker maar droom.

Stel jouself 'n wêreld voor waar jy nooit hoef te groet nie en nie iewers totsiens moet sê nie; 'n wêreld sonder afskeid en trane. Dis moeilik (dalk onmoontlik) om dit enigsins voor te stel. Die werklikheid is dat ons nie vir altyd hier gaan bly nie (Pred 3:2). Vroeër of later gaan ons elkeen ook groet. My skoonma het altyd 'n wit sakdoekie gewaai wanneer hulle vertrek en uit ons gesig verdwyn. Ons elkeen gaan een of ander tyd ook 'n wit sakdoekie waai. 

Vir die mense van die Ou Testament was dit die einde. Daarna wag daar net 'n diep slaap in die doderyk (Pred 3:20-21). Niks meer as dit. Vir elkeen wat in Jesus glo is daar wel iets wat wag na die laaste waai van die wit sakdoekie. Daar is wel die vooruitsigte van 'n ewige lewe, maar nie soos wat ons dit nou ken nie. 

Die ewige lewe waarvan die Bybel praat kom nie deur tegnologie nie; dis nie iets wat deur AI uitgedink en ontwikkel word nie. Dit is meer as net 'n ewige verblyf in hierdie liggaam en op hierdie aarde. Dis 'n nuwe liggaam (1 Kor 15:42,50) op 'n nuwe aarde - onder 'n nuwe Hemel (Ope 21:1).

Alles sal nuut wees. Geen siekte, seer, pyn, armoede, oorlog, niks van hierdie dinge nie (Ope 21:4). Maar ook geen gegroetery, geen afskeid, geen totsiens en ook geen wit sakdoekies wat waai nie...

Dink jy nie ook dit sal lekker wees nie?

Mooi dag!
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande