Om God se stem te hoor
Vrydag refleksie 8 Aug
Party mense "hoor" die Here se stem harder en duideliker as ander. Mense sê baie keer "die Here het vir my gesê" of "ek het die Here se stem duidelik gehoor". Ek moet erken dat ek soms sukkel om die Here se stem te hoor. Meesal hoor ek Sy stem net in die Bybel of in ander mense sê raad.
Ek lees in die afgelope tyd 'n boek oor een van die monnike in die middeleeue. Ek bewonder altyd hierdie ouens wat alles in die lewe opgeoffer het ter wille van hulle verhouding met die Here: huwelik, kinders, normale lewe, alles. Hulle wou baie naby aan God lewe en Hom duidelik hoor. 'n Mens kan baie by hulle leer.
Een van die monnikke, Ignatius, het besluit om vir veertig dae te vas en te bid en te wag op die Here se antwoord. Op die aand van die 39e dag het hy begin benoud word want Hy hoor nog niks. Aan die einde van die 40e dag was God steeds stil. Dit was ook 'n antwoord. Hy moes toe die stilte interpreteer en 'n besluit neem.
Dit troos my want ek het ook al gewag op 'n antwoord en nie 'n antwoord gekry nie. Ek het al dikwels gewens ek kon God hoor of duideliker hoor. In die afgelope week moes ons groot keuses maak...en daar was geen duidelike stem nie. Tog was daar 'n stille berusting, 'n gevoel van vrede dat ons binne God se Wil is.
In die Bybeltyd het mense ook soms gesê dat die Here "vir hulle gesê het" en dan sê die Here "maar ek het nie gepraat nie" (Jer 14:14). 'n Mens moet maar eerlik wees oor wanneer jy God gehoor het en wanneer God stil was. Daar is nie noodwendig iets fout as God stil is nie. Dis goed en eerlik om te erken as jy nie 'n duidelike antwoord gekry het nie.
Mag jy altyd sensitief wees vir die Here se stem. Maar mag jy ook rus en vrede vind in Sy stilte en swye. As ouer luister ek ook soms aandagtig na my kinders sonder om iets te sê. Ek is stil want ek vertrou hulle om die regte keuses te maak...
Mooi dag!
Comments
Post a Comment