Toe stuur God 'n seemeeu
Vrydag refleksie - 15 Aug
Max Lucado vertel die ware verhaal van 'n klompie manne wiese vliegtuig tydens die Tweede Wêreldoorlog in die oseaan geval het. Hulle het vir drie weke rond gedobber op 'n reddingsbootjie op die oop see. Hulle het bly bid dat die Here hulle moet help. Gebed was nie 'n opsie nie; dit was die enigste opsie.
Toe hulle op die punt was om te sterf van die honger het een van die manne wakker geword: 'n seemeeu het op sy hoed se punt kom sit. Hulle het die seemeeu gevang en geëet om te oorleef. Hulle het die binnegoed gebruik as aas om vis te vang - en so oorleef meeste van hulle die drie weke op die oop see.
Max Lucado som dit mooi op. Terwyl die hele wêreld in oorlog gewikkel was en die bomme oral geval het, het God 'n klompie manne op die oop see, myle daarvandaan, se gebed gehoor en vir hulle uitkoms gestuur. Die seemeeu moes sterf dat hulle kon leef.
Die Bybel vertel 'n soortgelyke verhaal: 'n klomp mense op 'n drywende planeet - besig om verlore te gaan. Hy het Sy Seun gestuur. Hy moes sterf dat ons kan leef. Soos die seemeeu was Hy ook gestuur; soos die seemeeu moes Hy ook sterf; soos hierdie manne kan ons ook leef.
God sien nie net die groot dinge in die wêreld raak nie; Hy sien 'n klompie manne op 'n klein reggingsbootjie iewers op die groot oseaan ook raak. Hy sien ook vandag vir elkeen van ons raak. Hy sien die tannie, alleen in die ouetehuis; Hy hoor die kind, alleen en bang in sy bed; Hy sien elke pasiënt in die hospitaal, en Hy sien vir jou op jou klein reddingsbootjie.
Hy weet van elke mossie wat op die grond val (Mat 10:29); die hare op elke kop is getel (Mat 10:30). Hoe sê die lied wat ons Sondag gesing het: "Hy luister as Sy kinders bid en vra..."
Vertrou Hom vir hulp en uitkoms. Kyk uit vir die redding wat Hy stuur. Dalk lyk dit anders as wat jy verwag het. Vir Israel het Hy manna en kwartels gestuur; vir Elia het Hy kraaie gestuur; vir hierdie groepie manne net 'n seemeeu...
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment