23 September 2025
Vandag is die 23e September. Dit gons omtrent oor die 23e September 2025. Dis interessant watter rol die 23e/24e September in die huidige voorspellings speel. In die Joodse kalender is dit die 1e Tisjrie (Lev 23:24). Op hierdie dag vier die Jode die Roosj Hasjana of die begin van die nuwe jaar. (In Exodus 12:2 sê die Here egter die maand Nisan is die eerste maand en die begin van hulle jaar. Die maand Tisjrie is die 7e maand).
Die Jode vier ook vandag die fees van die trompette (Lev 23:24). Omdat die groot trompet gaan blaas as Jesus terugkom (1 Tes 4:16), word die afleiding gemaak dat Jesus dalk op hierdie dag gaan terugkom of dat die "wegraping" op hierdie dag gaan plaasvind.
Die probleem bly maar dat ons op allerlei maniere wil somme maak en uitwerk wanneer Jesus gaan kom - iets waarteen Jesus self ons uitdruklik gewaarsku het om nie te doen nie. Hy het oor en oor gesê dat niemand weet nie (Mat 24:36,42,44).
Ek het al baie gewonder wat 'n mens sou doen as jy hoor dat 'n groot meteoriet die aarde oor twee dae tref en alles gaan vernietig. Sou dit help om dit te weet? Sou dit beter wees om dit te weet of nie te weet nie? Wat sal jy doen as jy dit sou weet? Dalk vir almal vir wie jy seergemaak het jammer sê? Of spesiale tyd saam met jou huweliksmaat en kinders deurbring? Of van jou rykdom weggee? Of regmaak met die Here?
Ons lewe kan altyd op enige oomblik ophou - dis elke dag 'n nare realiteit. Al wat ons het is vandag. Daarom moet 'n mens elke dag leef asof dit jou laaste dag is. Sê vandag jammer, vra vergifnis en gee vergifnis, wees lief vir almal om jou, deel jou oorvloed met ander en breek met elke sonde in jou lewe. Aanvaar Jesus as jou Verlosser en Here. Dan sal jy gereed wees vir wat ookal gebeur - ook vir 'n lang lewe op die aarde. Party mense is gereed om te sterf maar nie gereed om te leef nie.
Die kort en lank van alles: Hou op somme maak en leef elke dag voluit. Koester elke oomblik en leef in die oomblik. Wees lief vir God en wees lief vir die mense op jou pad. Lag, vergewe en spreek vry. En reik uit na mense wat nie gereed is nie: vertel hulle van God se liefde en genade sodat hulle ook gereed kan wees.
En as jy dit alles doen, is 23 September 'n dag soos alle ander dae - 'n gawe uit God se hand. Carpe Diem - gryp die dag!
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment