Hoe lank nog?

Maandag 22 September

Jesus het gesê Hy kom gou weer (Ope 22:20). Maar dis al 2000 jaar? Waarom neem dit so lank?

Ek onthou die eerste keer wat ons gesinnetjie van Potch af Kaap toe sou ry. Die kinders was nog klein. Hulle wou weet hoe ver dit is. "Is dit so ver soos ouma-hulle?", wou hulle weet. Ouma-hulle het in Pretoria gewoon. Ons het probeer verduidelik: "Dis omtrent sewe keer so ver as ouma-hulle". Dit het nie baie gehelp nie, want na 'n uur se ry wou hulle weet of ons amper daar is.

Ons het later vir hulle probeer verduidelik dat ons vir twee dae lank gaan ry. Ons gaan 'n hele dag ry en oorslaap en dan weer vir 'n halwe dag ry. Maar hoe verstaan klein kinders wat dit beteken om twee dae te ry. Hoe verduidelik jy vir klein kinders hoe ver is 1400km? Einde ten laaste het ons vir hulle gesê dat hulle maar moet "wag en sien".

Is dit nie die dilemma van die wederkoms nie? Hoe verduidelik jy vir gewone mense hoe lank die pad tussen die hemelvaart en wederkoms is? Soos my kinders nie kon verstaan hoe ver die Kaap is nie, kan ons nie verstaan hoe naby of ver die wederkoms is nie. Ons moet ook "wag en sien".

God se tyd is nie ons tyd nie, en ons tyd is nie God se tyd nie. Sy horlosie tik nie sekondes, minute en ure af nie. Dalk tik dit jare of ligjare af. Dalk is daar nie eers 'n horlosie nie, want God is buite tyd - groter as tyd. Vir 33 jaar het Hy in ons tydsraamwerk kom leef en ervaar hoe die sekondes en minute van Sy aardse lewe aftik en uitloop. Met Sy hemelvaart het Hy teruggekeer na Sy eie Goddelike horlosie (ewighed). 

Ons weet steeds nie wanneer Hy kom nie, maar ons weet dat Hy kom. Dalk hierdie week, volgende week of dalk oor 'n duisend jaar. Ons weet nie hoe ver is ons op die pad en hoe ver of naby die bestemming is nie. Ons sal moet "wag en sien". Ons het verwag ons kinders moet maar "wag en sien"; ons Vader verwag dieselfde van ons.

Dis vandag baie jare later. Ons lag nou saam met ons kinders oor daardie tyd se vrae en antwoorde. Die belangrikste is: ons het daardie tyd Kaap toe gery en veilig aangekom na twee dae se ry. Dit was 'n lang pad maar dit was die moeite werd. Die wag was die moeite werd. Ons het gewag en gesien. Eendag, met die wederkoms, sal ons ook terugkyk en sê dit was die moeite werd om te wag en sien...

Mooi week!

Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande