Moet ons haastig wees dat Jesus kom?
Donderdag 25 September
Die Woord "wederkoms" veroorsaak verskillende emosies by verskillende mense: uitsien, ongeloof, vrees. Gewoonlik sien ouer mense en mense wat baie swaarkry meer uit dat Jesus gou moet kom. Jonger mense is soms bang dat Jesus nou al sal terugkom - ek dink dis normaal. Dink maar aan die paartjie wat al 5 jaar uitgaan en oor twee maande trou. Of die jong ma wat 8 maande swanger is en graag eers haar babatjie in die wêreld wil bring. Ek moet eerlik erken dat ek ook graag eers wou trou en kinders hê voordat die Here terugkom. Ek het regtig gehoop Hy kom nie voordat hierdie twee drome van my waar geword het nie.
Soos wat ek ouer word, word my uitsien na die wederkoms meer. Maar selfs nou dat ek ouer is, sal ek graag nog lank op hierdie mooi aarde wou bly. My vrou is hier, en my kinders, en soveel mense wat vir my kosbaar en spesiaal is. Ek sou graag nog klomp plekke besoek, pa en oupa wees, staptoere stap, vleisies braai en vir baie mense van Jesus (en die Bybel) leer.
Ek wonder sommer vanoggend of 'n mens se grootste wens behoort te wees om so gou as moontlik by Jesus te wees. Behoort 'n mens die tyd op aarde om te wens sodat jy so gou as moontlik by die Here kan wees? Is die ideaal om so jonk as moontlik te sterf of dat die wederkoms so gou as moontlik moet plaasvind?
As ek die Bybel lees, lyk dit nie vir my of dit so was nie. Die opdrag aan die mens was om vrugbaar te wees en die aarde te bewoon en te bewerk (Gen 1:28). Daar was nie 'n oordrewe fokus op die hemel en die hiernamals nie. Dit was eerder die heerlike troos, dat as my lewe op die aarde wel sou ophou, daar 'n wonderlike lewe by God en saam met God op my wag (1 Tes 4:18). Die Bybel gee nie vir ons raad oor hoe om so gou as moontlik hier weg te kom nie, maar hoe om so mooi en goed as moontlik hier te leef (Rom 12:9-21).
Om die waarheid te sê, die Bybel leer ons dat God hier kom bly het om hierdie aardse lewe te heilig. Wanneer Hy opvaar stuur Hy Sy Gees om op hierdie aarde by ons en in ons te kom woon. Hy skenk reeds hier 'n lewe in oorvloed. Hy roep ons vir hierdie wêreld en stuur ons uit na/in hierdie wêreld.
Paulus som dit mooi op in Fil 1:23-24. Aan die een kant wil ons heengaan en by die Here wees; aan die ander kant wil ons hier bly.
Geniet hierdie kort lewe op aarde - die Psalmdigter sê dis maar 60 of 70 jaar (Psalm 90)! Moenie dit omwens en verbywens nie. Leef voluit! Leef reg! Vertel vir ander! En die heerlike troos: as dit wel eendag ophou, wag daar vir ons 'n lewe by die Here!
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment