'n Mooi Erfenis - 24 September 2025

Dis vandag Erfenisdag. Ons vier op hierdie dag ons erfenis. 'n Mens sou bladsye vol kon skryf oor ons erfenis(se): die aarde, ons mooi land, ons taal, kultuur, afkoms, gewoontes, tradisies en ten diepste ons geloof. Die doel van hierdie dag is om jou erfenis te vier en ook waardering te hê vir ander se erfenis(se).

Ek is 'n blanke Afrikaner man. Dit voel amper verkeerd om dit te sê. In die wêreld waar ons woon is dit nie 'n goeie identiteit nie. Maar dis wie God my gemaak het. Dis my identiteit. Dis deel van my erfenis. En daarom is ek trots daarop en dankbaar daarvoor. 

Ek is ook 'n Christen, 'n kind van God. Ek ken nie 'n ander lewe as dit nie. My ma het my van kleins af geleer van God en van Jesus - ek eer haar daarvoor. Ek is kleintyd gedoop. En ek is Gereformeerd. Ek het respek vir ander tradisies soos die Katolieke en die Charismate, maar ek is Gereformeerd. Ek is trots en dankbaar daarvoor. Ek ken nie 'n ander lewe as 'n lewe gebou op Christelike waardes nie. Ek is lief vir God en lief vir Sy Woord.

Ek is 'n Suid-Afrikaner en lief vir hierdie land. God het vir ons een van die mooiste stukke van Sy aarde gegee: die berge en dale van Mpumalanga, die Kruger wildtuin, die warm waters van die Noordkus en Suidkus, die pieke van die Drakensberge, die ruimte van die Karoo en Klein-Karoo, die Weskus, Boesmanland en die mooie Kaap. Dis 'n mooi land met soveel mooi plekke, mooi mense en mooi tradisies.

As ek aan my (ons) erfenis dink, kom Psalm 16 in my gedagtes op: "[5] Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. [6] 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi." Ek is vandag sommer net weer vol dankbaarheid vir dit wat ons uit die Here se hand ontvang.

Soos baie ander mense in die land gaan ons later vandag 'n vleisie braai, want dis braaidag. Ook dit is deel van ons erfenis. Ek dink nie enige ander taal sê dit so mooi nie: "'n vleisie braai' of "'n vleisie op die kole". Probeer dit gerus in Engels sê, of in Duits?

Ons erfenis is mooi. Wat ons ontvang het is, is mooi (Ps 16).

Toe die Moesonreëns begin val het 'n ou man mangobome geplant. Sy buurman het hom uitgelag en gesê: "Jy is al oud. Jy dink seker nie jy gaan lank genoeg leef om van hierdie bome te eet nie?" Die ou man het geantwoord: "Nee, ek sal nie self hiervan kan eet nie, maar ek het besef dat ek my hele lewe lank geëet het van die bome wat ander mense geplant het. Ek plant bome waarvan die mense wat ná my kom, kan eet."

Ons sê vandag nie net dankie vir ons erfenis nie. Ons dink ook oor dit was ons nalaat vir die mense wat ná ons kom. Mag dit ook mooi wees. Soos iemand eenmaal gesê het: Ons erf nie die aarde by ons ouers nie; ons leen dit by ons kinders.

Mooi Erfenisdag!
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande