'n Wêreld sonder reëls?
Vrydag refleksie - 12 September
Dit sou lekker wees om in ’n wêreld te bly waar daar geen reëls is nie. Dit sou natuurlik net kon
werk as alle mense net goed was en daar nie een stukkie kwaad in enige mens is nie. As alle
mense perfek was, sou dit dalk kon werk. Maar waar kry jy ’n perfekte wêreld? Waar kry jy selfs een perfekte mens?
Aan die begin het God ’n tuin geskep en twee mense daarin geplaas (Gen 2). Dit was die mees perfekte wêreld wat jy kon voorstel. Geen reëls was nodig nie. Tog was daar wel een reël: julle mag nie van die boom in die middel van die tuin eet nie. ’n Perfekte wêreld: net twee mense maar daar is een reël. En die hartseer van hierdie verhaal is dat hulle daardie een reël oortree het.
Na daardie dag in die tuin, toe hulle daardie een enkele reël oortree het, het daar iets met hulle
gebeur – iets wat geneties oorgedra is van daardie dag af tot vandag. Ek het dit by my ouers ontvang en ek het dit ook oorgedra na my kinders: ’n liefde diep in my vir dit wat verkeerd is, ‘n liefde vir sonde. Die Belydeniskrifte praat van ’n geneigtheid tot sonde – dit klink darem bietjie mooier as ’n liefde vir sonde.
Kerkmense is nie oorgeslaan hierin nie. Kom ons wees eerlik: ons elkeen het ook ’n geneigdheid tot sonde. Ons ry ook te vinnig, praat gou op die selfoon terwyl ons bestuur, sê iets agter iemand se rug of kyk neer op ander mense. Baie van ons het ook al soos Petrus vir Jesus verloën of soos die Farriseër gedink ons is darem nie so sondig soos die ander nie.
Daarom woon ons ’n wêreld vol reëls. Sommige van die reëls is verlammend. Sommige reëls is oorbodig en ander is soms belaglik. Maar dink net waar ons sonder reëls sou wees. Maar ons sal aanhou droom oor ’n wêreld sonder reëls; ’n wêreld waar al die boosheid vernietig is; waar die geneigdheid tot die sonde nie meer bestaan nie. ’n Wêreld waar almal dieselfde waardes het; waar liefde vir God en medemens volmaak is.
Dit gaan nie in hierdie wêreld gebeur nie. Hier en daar sien ons klein stukkies daarvan – ons
noem dit God se koninkryk. Maar eendag sal ons wel in God se perfekte wêreld wees. Petrus sê “daar sal God se wil volmaak geskied” (2 Pet 3:13). Geen moorde op treine, geen sluipmoorde op kampusse, geen bedrog, geen korrupsie, geen misbruike. Tot dan sal ons moet saamleef met al die reëls...en ook almal wat hulle nie steur aan reëls nie...
Mooi dag!
Comments
Post a Comment