Ons leef in die laaste dae...
Vrydag refleksie - 26 September
Dit was 'n moeilike week in die wêreld. Die oorlog tussen Israel en Gasa is meer intens as ooit. Die verdeeldheid rondom Israel se hantering daarvan, word al hoe groter. Ook binne die Verenigde Nasies is daar al hoe meer spanning hieroor.
Intussen het 'n reuse tifoon of tropiese sikloon Hong Kong en China getref. 'n Vriendin, wiese kinders daar woon en daar onderwys gee, het angstig gesit en wag om te hoor of haar kinders veilig is.
In Bangkok het 'n reuse sinkgat reg voor die hospitaal groot skade aangerig. Dis angswekkend om te sien hoe 'n teerpad en motors deur die aarde ingesluk word.
Hier in ons eie land beleef ons groot skok en teleurstelling oor die getuienisse voor die Madlanga kommissie. Dit gaan sleg in die topstruktuur van die SAPD. Dit gaan sleg met 'n land as sy veiligheidsdienste in die verkeerde hande is.
En asof daar nie reeds genoeg moeilikheid en uitdagings is nie, dien Julius Malema 'n voorstel in dat die Kruger wildtuin se naam verander moet word. 'n Mens kan soms net jou kop skud. Maak al die naamsveranderinge regtig mense se lewens beter? Moet alles wat mooi werk nuwe name kry?
'n Mens kan amper verstaan dat 'n klomp mense voorspel het dat die wêreld se einde aangebreek het. Oral kook die potte. Dit lyk of die tekens van die tye in hoë konsentrasie voor ons oë afspeel. Een ding is seker: ons leef ook in die laaste dae - jy kan dit nie miskyk nie.
Maar die laaste dae is nie net sleg en skrikwekkend nie. Ons is al vir 2000 jaar in die laaste dae. Tussen al die slegte dinge is daar steeds soveel mooi: koffie saam met kollegas en vriende, 'n vleisie op die kole op Erfenisdag, 'n Bybelskool saam met lidmate wat graag meer van dissipelskap wil leer, 'n mooi lied op die radio, netbal-kyk saam met my vrou, kuier saam met ons omgeegroepie om die tafel, ens.
Oral sien ek steeds mense lag en gesels. Die lewe is steeds lekker en mooi. 'n Mens kan maklik net al die negatiewe dinge raaksien: ons moet doelbewus kies om dit nie te doen nie. Soos Izak de Villiers lank terug geskryf het: hierdie tye bruis ook met geleenthede vir God.
Mag jy vandag al die mooi om jou raaksien. Hoe sê die Engelse vers en lied: "this is the day that the Lord has made - let us rejoice and be glad in it". Leef dankbaar, vreugdevol en hoopvol! Skitter soos die sterre! (Dan 12:3)
Mooi dag!
Comments
Post a Comment