Dokters en dinge

Vrydag refleksie - 3 Oktober

Die boek Lukas, is deur 'n mediese dokter geskryf (Kol 4:14). Iemand sê onlangs vir my dat dit 'n wonderwerk is dat ons enigsins Lukas kon lees - die meeste dokters se voorskrifte (en boeke) sou onleesbaar wees.

Ek was die afgelope tyd self ook 'n hele paar keer by die dokters. Dikwels weet 'n mens self wat fout is. Jy weet jy het verkoue of griep - jy benodig net die voorskrif. Maar soms het jy nie 'n idee wat fout is nie. Jy het reeds alles probeer. Dis in sulke tye wat 'n mens staatmaak op die dokter se kennis en ervaring. En jy hoop (en bid) dis goeie nuus. Soos wat 'n mens ouer word besef jy terdeë dat enige toets positief of negatief kan wees - dit maak 'n mens bang.

Ek sê altyd vir die Here dankie vir elke toets wat negatief is; vir elke gogga wat ek nie het nie. En soms voel dit of daar net meer en meer goggas is. Ek weet nie of die goggas meer word en of dit net name gekry het nie, maar dis angswekkend om te hoor van al die (nuwe) goggas. 

Dis wonderlik dat dokter Lukas in Jesus geglo het - selfs 'n hele boek oor Hom geskryf het. Dis kosbaar dat hy (as dokter) so opgewonde is oor Jesus se wonderwerke en van soveel wonderwerke vertel. Dis steeds lekker om te weet as jou dokter ook in Jesus glo, en opgewonde is oor Sy wonderwerke. Ek voel altyd bietjie veiliger by 'n dokter wat die Here ken. 

Terwyl ek Woensdag oggend by die dokter sit, sê ek vir die Here dankie vir dokters en vir die mediese wetenskap. Ek stem nie noodwendig saam met alles in die mediese bedryf nie, soos wat ek nie saamstem met alles in die kerk nie. Maar ek dank die Here vir bloedtoetse, X-straal-masjiene, antibiotika, EKG's en hospitale. 

Ek glo dat God die groot geneesheer is. Hy genees met of sonder dokters. Hy het nie dokters (of dominees) nodig nie, maar Hy gebruik hulle. Hy het selfs 'n dokter gebruik om een van die Evangelies te skryf. Jesus het nie bedreig gevoel deur dokters nie; Hy was ook nie vyandig teenoor dokters nie. Hy gebruik selfs die prentjie van 'n dokter en sê dat gesonde mense nie 'n dokter nodig het nie; siek mense het wel. Net so het Hy nie gekom vir mense sonder sonde nie maar vir sondaars (Luk 5:31).

Ons leef in 'n bevoorregte tyd. Dis goeie tye: hartoorplantings, heupvervangings, pasaangeërs, kogleêre inplantings, kunsmatige ledemate en proefbuisbabas. Ek dank die Here vandag vir dokters, hospitale, apteke, mediese navorsing en die mediese bedryf. Ek bid dat hulle altyd sal onthou dat hulle ook net nederige diensknegte moet wees. 

Agter alles sien ek die groot Geneesheer. Hy het gate in Sy hande en 'n spieswond in Sy sy. Sy liggaam is stukkend - soos joune en myne. Net Hy kan gesond maak. Hy ken jou liggaam, jou psige en jou hart. Hy genees nie net liggame nie; Hy genees ook harte. Soos die melaatse man in Mat 8 sê ons ook: "As U wil, kan U my gesondmaak". Wie weet, dalk sê Hy vir jou en my dieselfde woorde as vir daardie melaatse man:"Ek wil. Word gesond!" (Mat 8:1-4).

Mooi dag,
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande