Dood van 'n kollega (Christa)
Vrydag refleksie - 31 Oktober
Ons het hierdie week 'n kollega verloor. Dis nooit lekker nie. Christa het twee jaar gelede pankreaskanker gekry. Maandagoggend vroeg het sy die stryd teen die kanker verloor. My pa is ook jare gelede oorlede aan pankreaskanker. Dis nie 'n vriendelike kanker nie; dis 'n seer en moeilike pad.
In my vorige werkkring het ons ook kollegas verloor. Eers is Johannes, ons terreinman oorlede; daarna is Reon, my kollega en mede-leraar oorlede. Nog later is tannie Bessie, ons koster oorlede. 'n Kollega se dood laat 'n groot gat in 'n personeelspan. 'n Mens word lief vir mekaar - dis soos "buddies" in die weermag. 'n Mens gaan deur diep waters saam met mekaar en vir mekaar. Sommige kollegas groei meer op jou as ander.
Die dissipels van ouds het ook 'n kollega verloor. Hulle kollega, vriend, leier en mentor is oorlede. Hulle het Hom gesien sterf. Hy was die middelpunt van hulle werkkring en vriendekring. Hulle het hulle lewens, beroepe en gesinne agtergelaat vir Hom. En skielik is Hy weg. In dieselfde tyd het 'n ander kollega (Judas) sy eie lewe geneem.
Hulle het teruggegaan na die bokamer waar hulle altyd saam met hulle Rabbi vergader het. Ek glo daar was 'n somberheid en leegheid in hulle. Max Lucado praat van 'n bokamer-moedeloosheid. Waarheen nou? Ons het iets daarvan hierdie week beleef in ons eie klein kringetjie. Woensdagoggend, met ons personeelvergadering het ek op Christa se plek gesit - dit het half verkeerd gevoel...miskien ons eie stukkie bokamer-moedeloosheid?
Maar die lewe gaan aan. 'n Mens hou stil, vertoef, rou, huil en oordink, maar dan moet jy weer aangaan. Jesus se dissipels moes ook weer voortgaan: iemand kies in Judas se plek, die Woord verkondig, die weduwees versorg, ens. Ons moet ook weer voortgaan. 'n Mens kan nie en mag nie sterf saam met die mense wat gesterf het nie
Daarom kyk ons vorentoe. Christa is by die Here. Sy ervaar blydskap en vrede - daarom kan ons en mag ons ook blydskap en vrede ervaar. Ons mag weer lag, werk en die lewe geniet. Ons mag soos die dissipels die leë plekke vul. En ons mag weer vorentoe gaan.
Mooi dag!
Comments
Post a Comment