Give me the good news (oorloë)
Dagstukkie: 6 Oktober 2025
Wilhelm is hierdie week met verlof - ek skryf graag hierdie week se dagstukkies oor sekulêre liedjies met 'n dieper boodskap.
Ek luister gister weer na Crocodile Harris se bekende lied "Give me the good news" (1984). 'n Mens kan nie help om te glimlag as jy die hare en kleredrag in die video sien nie - ons het almal waarskynlik in 1984 so gelyk! Maar daar is ook iets mooi en skoon aan daardie tyd: daar was minder geraas in die musiek.
Daar is 'n paar frases wat vir my uitstaan in hierdie sekulêre liedjie:
"If we accept the word forever
Maybe we should live together
And not be scared to watch
The late night news
You can't use guns to build a nation
A bullet never was creation
Give, give me the good news
War's the one game where we all lose
Give me the good news"
Dis vandag meer as 41 jaar nadat Crocodile Harris hierdie lied gesing het. Dit voel vir my of daar meer oorloë en dreigemente van oorloë as ooit is (Mat 24:6-7). En die oorloë is feller as ooit met "drones" en hipersonies missiele. 'n Mens kan nie help om te wonder of al die lewensverliese en skade aan infrastruktuur die moeite werd is nie.
Die Ou Testament was vol oorloë - dikwels ook heilige oorloë. Ek wonder dikwels of die Here regtig vir die Israeliete aangesê het om al die oorloë te maak en of hulle dalk vir God verkeerd verstaan het in baie gevalle. Dalk was baie van die oorloë nie Sy Wil nie? Ek sukkel soms met die wreedheid in die Ou Testament.
Dalk was Crocodile Harris reg toe Hy gesê het dat "war's the game where we all lose". Iemand het eenmaal gesê dat daar nie wenners in 'n oorlog is nie; daar is net oorlewendes.
In Jesaja 2:4 sê die profeet vir die volk: "Hy sal regspreek tussen die nasies, die reg handhaaf vir talryke volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie; hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie." Dalk sien ons hier God se droom die duidelikste raak - in die hartjie van die Ou Testament. Sal dit nie wonderlik wees as oorloë ophou en wapens nie meer nodig is nie?
Oorlog moet altyd die heel laaste opsie bly. Jesus spoor ons aan om vredemakers te wees; Wie na die swaard gryp sal deur die swaard onkom; bid vid julle vervolgers.
Kom ons bid vandag weer dat daar 'n einde sal kom aan die oorloë - ook in Oekraïne en die Midde-Ooste. Kom ons bid vir 'n wêreld waar 'n mens nie bang is om die nuus te kyk nie; waar grootmense en kinders veilig is.
Die tema van die lied is "Give me the good news". Die Bybel wil vir ons die goeie nuus vertel - die woord "evangelie" beteken goeie nuus. Dalk is dit wat die wêreld nodig het. Ons is draers van die goeie nuus...
Groete en mooi dag!
Coenie
https://youtu.be/JACJjid9WWY?si=iOcqx-GQnik_sjvq
Comments
Post a Comment