Gyselaars

Vrydag refleksie - 17 Oktober

In die afgelope week is die laaste oorlewende gyselaars deur Hamas vrygelaat. Israel het op hulle beurt meer as 1900 gevangenes laat terugkeer na Gasa. Die toekoms sal wys of die vrede werklik gaan hou, maar ons is bly oor die ooreenkoms wat bereik is.

Ons het in die afgelope week die hartroerende tonele gesien van die gyselaars wat na 736 dae weer tuiskom. Hulle is uitgehonger en afgetakel. Duidelik was dit nie 'n maklike twee jaar nie. Sommige van hulle moes hulle eie grafte grawe. Baie van hulle mede-gyselaars het dit nie oorleef nie. Maar vir die gyselaars wat oorleef het en kon terugkeer na hulle families, was dit 'n week om nie te vergeet nie.

Die prentjies van families wat mekaar vashou en hardop staan en huil, bly in 'n mens se gedagtes. Trane van vreugde. Vreugde oor huweliksmaats wat tuis is; vreugde oor pappa's wat teruggekom het; vreugde oor kinders, vriende en kollegas.

'n Mens sien dikwels sulke mooi oomblikke op lughawens. In die aankoms-portaal staan almal gretig en wag vir hulle geliefdes - alle oë op die twee deure waardeur die passasiers binnestap. Opgewondenheid. Blydskap. Vreugde. Dankbaarheid. Hartroerend.

Die grootste deel van die Ou Testament draai om die verhaal van ballingskap. 'n Groot deel van die volk was in ballingskap in Babilonië. Psalm 137 vertel hoe hulle by die riviere van Babel gesit en huil het en verlang na hulle eie land en mense. Hulle het hulle siters opgehang aan die bome en ophou sing. Die lewe was sleg. Na sewentig jaar het koning Kores hulle toegelaat om terug te keer na hulle eie land en mense. 'n Mens kan net probeer dink watter groot oomblik dit moes wees. 

Psalm 126 vertel iets van hierdie vreugde:
'n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos 'n droom. Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.” Die Here hét groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.

Ek glo dat Psalm 126 in die afgelope week in baie huise in Israel gelees is - en gevier is. Ons is bly saam met die al die gesinne wat hulle geliefdes teruggekry het - aan altwee kante. Ons huil saam met al die gesinne wat net 'n liggaam teruggekry het, of nog wag daarvoor. Ons sien uit na die dag wanneer alle oorloë finaal verby sal wees en niemand meer 'n krygsgevangene of gyselaar sal wees nie...

Mooi dag!
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande