In the ghetto
Dagstukkie - 8 Oktober
Elvis Presley het in 1969 die lied "In the Ghetto" (geskryf deur Mac Davis) opgeneem. Die lied se titel was aanvanklik "The Vicious Circle".
Die lied vertel die verhaal van 'n ongewensde kind wat op 'n koue oggend in Chicago gebore is: sy ma wou hom nie gehad het nie. Die ghetto waarin hy gebore word, vertel die verhaal van armoede. Hy word groot in die strate en raak betrokke by misdaad. Uiteindelik pleeg Hy moord en word self ook doodgeskiet. Sy ma kry daarna weer 'n ongewensde baba - op 'n koue oggend in Chicago. So gaan die tragiese siklus voort...
Hierdie verhaal speel homself elke dag af in ons eie land, in Afrika en ander dele van die wêreld. Dis die dodelike siklus van armoede, ongewensde of onverantwoordelike swangerskappe, kinderverwaarlosings, lewe op straat, bendes en uiteindelik lewensverliese.
Die lied vertel van 'n ma wat nie haar kind wil hê nie. Sy huil as haar kind gebore word en sy huil as hy sterf; dan huil sy oor die volgende kind wat gebore word.
Dit val 'n mens op dat daar nie sprake is van 'n pa in hierdie lied nie. Daar word vandag gepraat van "the fatherless generation". Verskeie geleerdes sê dat die grootste behoefte (nood) in Afrika die behoefte aan pa's is. Verskeie projekte het al ontstaan om hierdie nood aan te spreek, soos die bekende "the world needs a father". Die wêreld het vaderloos geword. Pa's is dikwels afwesig agv werk, egskeiding, dood of doodgewoon onbetrokkenheid.
Die lied vertel die verhaal van 'n stukkende wêreld: arm en pa-loos. Miskien is dit een van die grootste redes waarom ons land lyk soos dit lyk? Dalk is dit waarom die Kaapse vlakte so baie in die nuus is? Of die bendes in Hawston?
Hierdie frase gryp mens aan:
"People, don't you understand
The child needs a helping hand
Or he'll grow to be an angry young man some day
Take a look at you and me
Are we too blind to see?
Do we simply turn our heads
And look the other way?"
Die uitdaging is groot. Ons sit met so baie "angry young men". Ek het nie antwoorde nie. Dalk moet ons as kerk meer betrokke raak - dalk "the world needs a father" in ons omgewing begin aanbied. Of mentors wees vir pa-lose kinders in ons omgewing. Of sommer net balskop saam met die kinders in ons omgewing.
Ons kan nie vir alle kinders pa's gee of pa wees nie. Maar ons kan hulle ten minste voorstel aan die Hemelse Vader. Hy genees pa- en ma-wonde. Hy maak pa-lose kinders deel van Sy gesin. Hy neem hulle in Sy huis (Joh 14:2). Hy word hulle Vader. Hy oorlaai hulle met goedheid en liefde (Ps 23:6). Dis wonderlik om 'n Hemelse Vader te hê....
Kom ons bid vandag spesiaal vir alle kinders in stukkende huise en moeilike omstandighede.
Mooi dag!
Coenie
https://youtu.be/qfypRsWPuVM?si=7qf67U_EW0mge4bd
Comments
Post a Comment