In my lewe (Matthys Roets)

Dagstukkie - 7 Oktober 2025

Matthys Roets sing 'n baie mooi lied met die titel "In my lewe". Dis aangrypend omdat hy dit sing terwyl hy in sy rolstoel ry en as't ware terugdink aan alles wat in sy lewe gebeur het. Dit voel asof Matthys die lied oor sy eie lewe geskryf het.

Die lied is egter geskryf deur Nardus du Plooy in 1999 en nie deur Matthys self nie. Matthys se lewensverhaal maak dit egter aangrypend. Hierdie lied is selfs opgeneem in die FAK Liedjietuin.

Hierdie lied is spesiaal omdat dit nie net oor Matthys se lewe gaan nie, maar oor elkeen van ons se lewe. Elkeen van ons het hoogtepunte bereik, verlief geraak op iemand, mooi plekke gesien, en ons hoop om ander mooi plekke nog te sien. Baie van ons ouer manne het ook die ystervuis van die mag gevoel. Elkeen van ons wat in Hermanus se see geswem het sal ook kan sê dis die "coolste" (of dalk die koelste?) ding wat ons nog gedoen het. Baie van ons sal ook kan sê dat ons foute gemaak het, mense verdink en seergemaak het. En ons almal het ook mense verloor - dis die laaste ding waaroor ons wou sing.

Elkeen van ons kan ook beaam dat daar dinge en baie mense is waarvan ons hou. Maar die diepste waarheid van hierdie lied lê in die refrein: "Maar ek sukkel met my hart - ja, hy wissel nog gedurig van warm na koud". Max Lucado sluit hierby aan en sê dat ons grootste probleem is 'n hartsprobleem. Die profeet Esegiël skryf ook dat die Here ons klipharte wil vervang met vleisharte (Eseg 36:26). Ons sukkel ook maar met ons harte.

Paulus som dit mooi en eerlik op as hy sê dat hy in 'n tweestryd is: die dinge wat hy wil doen, doen hy nie, en die dinge wat hy nie wil doen nie, dit doen hy (Rom 7:24). Is dit nie waar van my en jou ook nie - ons sukkel met ons harte. Ons "wissel ook gedurig tussen warm en koud". Soms het ons baie liefde; ander tye sukkel ons om lief te hê.

Paulus vra: Wie sal ons van hierdie ewige stryd (doodsbestaan) verlos? Dan antwoord hy: ek dank God - Hy doen dit deur Jesus Christus (Rom 7:24-25). Ons kry dit nie reg nie - daarom sterf Jesus en doen dit in ons plek. Ons dank die Here daarvoor!

Mag jy nog baie mooi dinge in jou lewe beleef; mag jy nog baie mooi plekke sien en nog baie "koel" oomblikke in die Kaapse see beleef. Maar meer as dit: mag jou hart meer dikwels warm as koud wees...

Groete,
Coenie

https://youtu.be/NYi7O47vicA?si=dA-bmEc9erU2cf19

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande