What a wonderful world

Vrydag refleksie - 10 Oktober

Ons sou op hierdie spesifieke dag oor baie dinge kon reflekteer: die polisie-getuienisse voor die parlement, vreemde vliegtuie in ons land of die branstigting by Fort Hare universiteit - tussen R250-R500m skade. Maar dan gaan ons die naweek op 'n baie negatiewe noot binne, want daar sit baie emosies in meeste van ons oor hierdie negatiewe dinge - dis normaal.

Tersia het my oorreed om eerder oor Louis Armstrong se besondere lied "What a wonderful world" te skryf. Ek wonder altyd hoe Louis Armstrong se stem dit gehou het - dalk het dit juis nie gehou nie. Ek probeer soms om hom na te doen en soos hy te sing, maar dan hoes ek my longe uit. Sy stem was uniek, en die lied se woorde is besonders.

Ten spyte van al die lelike dinge en al die boosheid in die wêreld, is daar steeds soveel mooi: groen bome, rooi rose, die kleure van die reenboog, die asemrowende sonsondergang, die wit varkoor-blomme en die fynbos. Dink maar aan die diep blou oseaan en die walvisse wat weer begin terugkeer en spring. Ja, die wêreld is steeds mooi.

Die mooiste deel van hierdie lied is hierdie frase:

I see friends shaking hands
Saying, "How do you do?"
They're really saying
I love you
I hear babies cry
I watch them grow
They'll learn much more
Than I'll ever know

Ek drink graag 'n koffie in die mall of by die hawe. Dan sit ek sommer net en kyk vir die mense. Mooi mense. Mooi op verskillende maniere - elkeen anders, elkeen uniek. 'n Mens sien mense wat loop en gesels, koffie drink, drukkies gee, lag en huil. Oral sit mense en kuier. Die wêreld is steeds mooi; daar is meer goed as sleg.

En elke dag word nog babatjies gebore - perfek geskape (gebore). Hulle lewens lê nog voor hulle. Hulle gaan dinge sien en leer en beleef wat ons nie gaan sien nie. Elke baba wat gebore word is 'n teken van hoop, 'n teken dat daar 'n toekoms is. Ja, die wêreld is steeds mooi.

God het alles mooi gemaak (Gen 1). Die sondeval (Gen 3) het baie van die mooi weggevat - kyk maar na Fort Hare - dis boos. Maar die bose kan nie al die mooi wegvat nie, al voel dit soms of die bose wil oorhand kry. Daar is meer mooi as lelik, meer lig as donker en meer goed as sleg.

Daarom sing ek vandag "What a wonderful world" hardop en uit volle bors saam met Louis Armstrong - en hoes daarna my longe uit. Dis 'n mooi wêreld. Dis God se wêreld. Dis die wêreld waarin Hy kom woon het en waarvoor Hy gesterf het. Oral waar mense Hom leer ken en Sy waardes leef word die wêreld weer mooier. Gebalde vuiste word hande wat seën; hande wat afbreek word hande wat opbou. Maar oral waar mense Hom nie ken nie, breek hulle af en vernietig...

Mag jy vandag regkry om al die mooi dinge raak te sien en daarop te fokus. Mag jy die stukkie wêreld waar jy leef, nog mooier maak deur wie jy is en wat jy doen. Mag jy aan die einde van die dag terugkyk en sê (sing): "What a wonderful world!"

Mooi dag!
Coenie

https://youtu.be/A3yCcXgbKrE?si=BQQYvqvyuSpIjSMQ

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande