Die wêreld is aan die brand....

Vrydag refleksie - 28 November

Die wêreld is aan die brand. Letterlik. Vir dae lank hang die wit rook oor land en see. Gansbaai is al dae lank sonder krag en internet. Die brande het alles verwoes: kragdrade, internet kabels, fynbos, bye...alles. Vuur en vlamme is genadeloos; dit verteer alles.

Dis nie net in Gansbaai nie. Ry jy oor die berg Kaap toe, sien jy die vlamme en digte rook oor die berg. Laas week het die berge bo Botrivier gebrand. In Danabaai leef die mense in vrees vir die vlamme wat al hoe nader kom. En in die Tsitsikamma het die brande die stok-ou Morawiese kerkie verwoes. Vuur en vlamme vra nie vrae nie - dit reduseer alles wat mooi was tot dooie, swart as. Vra maar vir die mense in Hong Kong.

Ja, die wêreld is letterlik aan die brand. 'n Mens kan nie help om te wonder hoe die brande amper gelyktydig oral ontstaan nie. Dalk is daar natuurlike oorsake; dalk nalatigheid of selfs brandstigting. Kan 'n gesonde, rasionele mens trots voel op 'n berg wat afgebrand het? Kan dit lekker wees om te sien hoe alles wat mooi is afbrand? Ja, dis moontlik wanneer daar niks mooi in jouself is nie.

Ons het die laaste ruk amper gewoond geraak aan die geluid van noodvoertuie en die reuk van afgebrande fynbos. 'n Mens sidder as jy dink aan al die insekte, voëls, goggas en diere wat in die slag bly. Die skade is onberekenbaar.

So jaar of wat gelede het ons eie vallei ook deurgeloop onder die brande. Intussen het alles weer begin groei en is die vallei weer mooier en groener. Die Skepper het 'n natuurlike neiging tot restourasie in Sy skepping ingebou. Swart velde word mettertyd weer groen; alles wat dood is word weer vervang deur lewe. Alles bly nie vir altyd dood nie.

Ons sien dit ook in ons eie liggame. Seer plekke word weer gesond; wonde heel met verloop van tyd; trane word weer vreugde. Agter dit alles is die groot God aan die werk. Hy verander woestyne in grasvlaktes (Ps 107:35), Hy laat affodille groei waar alles dood was (Jes 35:1). Hy laat mense wat gehuil het weer lag (Ps 30:6). Hy gee vir die verbitterde Naomi weer nuwe vreugde en lewensin (Rut 4:14-17). 

As God al die velde wat afgebrand het weer met tyd kan laat herleef, dink net wat Hy vir jou kan doen. Hy het iets in jou ingeskep wat altyd weer wil opstaan, herleef, nuut word en groei. Hy gee vir jou die krag om voort te gaan - selfs ná die donkerste tye en grootste verliese. 

Mag jy 'n nuwe seisoen van God se genade beleef. Mag alles in jou wat dood was, weer lewe. Mag jy blom en vrugte dra en sommer net mooi wees...

Mooi dag!
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande