Maak tyd om te rus

Vrydag refleksie - 21 November

Dit was nog altyd lekker om in 'n parkie te speel: klimrame, perde, swaaie, glyplanke en goeters wat vinnig draai. Ek het die meeste gehou van die goeters wat vinnig draai - ek dink die meeste seuns doen. Ons het 'n groot "kick" daaruit gekry om dit so vinnig te draai dat die meisies bang word. 

Ek het nogal lanklaas in 'n parkie gespeel. Dit sal seker snaaks lyk as 'n oom van 58 in 'n parkie speel en van die glyplank afgly. Maar 'n mens mis die speel. Grootmense speel te min. Deesdae speel kinders ook te min.

Ek dink deesdae weer baie aan die goeters wat so vinnig draai. Dit voel soms vir my of die lewe ook so is. Hy draai vinnig - al hoe vinniger. Jy moet net vasklou. Hierdie tyd van die jaar draai hy so vinnig dat 'n mens (soos die meisies in die parkie) so effens bang word. Ons hoor dikwels die woord "rat-race", die malle gejaag, die eindelose gejaag. En 'n mens klou verbete vas want jy mag nie afval nie.

Die Prediker het lank terug geskryf dat dit eintlik net 'n gejaag na wind is (1:14). Dit bevredig nie regtig nie; dit maak 'n mens moeg. Die meeste van ons is hierdie tyd van die jaar moeg. Daarom het hy (die Prediker) al hoe meer sin begin vind in die klein, gewone oomblikke in die lewe (Pred 9:7-9).

Heel aan die begin, toe God geskep het, het Hy ses dae lank geskep en op die sewende dag gerus (Gen 1). Hy het dit ook ingestel as gereelde rusdag vir ons. Die doel van die sewende dag was om te rus. Dit was 'n geskenk. Deesdae is selfs die rusdag vol verpligtinge, sport, inkopies en baie meer. Ons rus nie meer nie. Dis 'n ewige rotresies.

Ons sal weer moet leer om te rus. Afskakel. Stadiger leef. In elke werksplek is daar diegene wat in elk geval stadig leef - ek praat nie van hulle nie - ek is soms effens jaloers op hulle. Hulle sal moet leer om bietjie vinniger te leef. Maar vir almal wat alles gee, hard werk, en sommer net moeg voel: maak tyd om te rus. Klim vir 'n oomblik af van die goeters wat so vinnig ry. Drink 'n koffie, kyk 'n fliek, sit in jou tuin of lê sommer net op jou bed.

Ek bid sommer vanoggend vir elkeen wat saam met my voel dat die goeters bietjie te vinnig ry. Mag die Here vir jou krag gee vir vandag. En mag jy iewers, sommer net vir 'n paar minute, afklim en rus. Sterkte! 

Mooi dag!
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande