Nooit weer donker nie... (Oom Boetie)
Vrydag refleksie - 7 November
Ons moes, as naaste familie, hierdie week 'n moeilike besluit neem: om voort te gaan met mediese ondersteuning of om die masjiene geleidelik af te skakel. Tersia se oom (oom Boetie) is reeds vir twee maande in 'n hospitaal in Pretoria. In hierdie twee maande het haar oom net al hoe swakker geword - hy kan nie meer leef sonder die hulp van masjiene nie.
Dit bly een van die moeilikste keuses om te maak. Ons bid al vir die laaste maand dat die Here hom moet kom haal en verlos van die lyding en die gebroke aardse bestaan - sonder dat ons 'n besluit moes neem. Sy tentwoning het baie stukkend geraak (2 Kor 5). Oom Boetie het 'n oorerflike oogsiekte wat hom vroeg in sy lewe laat blind word het. Ek kan my nie indink hoe dit moet wees om altyd in die donker te wees nie. Ten spyte van die blindheid het hy 'n mooi en vol lewe geleef.
Enige oomblik van nou af kom die Here hom haal, tensy daar 'n wonderwerk gebeur en die Here hom gesondmaak. Menslik gesproke is dit onmoontlik maar by God is alle dinge moontlik. Onwaarskynlik maar moontlik.
Dink net hoe ekstra mooi die hemel vir hom gaan wees wanneer hy daar kom. As dit vir mense met sig, wat al die mooi dinge op die aarde kon sien, mooi gaan wees - dink net hoe mooi moet dit wees vir iemand wat al jare nie kon sien nie. As ek daaraan dink, wil ek soos Johannes op Patmos uitroep: Kom Here Jesus, kom gou! (Ope 22).
Maar eers moet Hy sterf. Dis seker die moeilikste ding wat 'n mens op aarde kan doen. Jy moet eers sterf voor jy kan leef. Tussen die groen weivelde en die tafel wat gereed gemaak is (Ps 23) lê die vallei van doodskaduwee. Maar die Psalmdigter herinner ons dat ons ook in hierdie vallei nie alleen sal wees nie: "selfs al gaan ek deur 'n vallei van doodskaduwee sal ek geen onheil vrees nie, want U is met my". Die Here is by oom Boetie, en Hy sal elke tree daar wees.
Enige oomblik gaan die tent afgebreek word, die tentpenne gaan uitgetrek word, en die vaste gebou gaan betrek word (2 Kor 5). Oom Boetie gaan verhuis na die kamer (woning) wat Jesus self gaan voorberei het (Joh 14). Alles gaan onbeskryflik mooi en kleurvol wees. En dit sal nooit weer donker wees nie....
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment