Geloftedag

Vrydag refleksie - 19 Desember

Ons het Dinsdag Versoeningsdag gevier. 'n Groot groep mense in ons land herdenk en vier dit steeds as Geloftedag. Duisende mense het Dinsdag by die Voortrekker monument en ander geskiedkundige plekke vergader om hierdie groot dag en gebeure te vier. Baie ander  gedenk dit tuis en bring dit soos 'n Sondag deur.

Op 16 Desember 1838 het 'n groep van 464 Voortrekkers, drie Engelse en talle swart en gekleurde helpers onder leiding van Andries Pretorius die Zoeloe-leërmag (ongeveer 15000-16000) afgeweer en verslaan. Op die aand voor die veldslag het hulle 'n gelofte afgelê dat, indien hulle sou wen, hulle die eer vir die oorwinning aan die Here sal gee. Hulle het ook belowe om hierdie dag elke jaar as 'n sabbat te vier en 'n huis tot die Here se eer te bou.

Daar is 'n diep Bybelse waarheid agter hierdie gebeure wat ons nie mag miskyk nie. God hoor as Sy kinders na Hom roep. Daar is wonderlike verhale in ons land waar die Here ingegryp en gebede verhoor het. In baie ander lande en groepe is daar soortgelyke verhale van God se ingrype. 

Ek dink elkeen van ons sal ook voorbeelde uit ons eie lewens of ons families kan noem waar ons gebid het dat die Here moet uitkoms gee - en Hy het dit gedoen. Dalk was dit langs 'n hospitaalbed, of voor 'n werksonderhoud, mediese toetse, 'n huwelikskrisis of wat ookal. Die Psalmdigter het dikwels vertel hoe Hy na die Here geroep het en die Here Hom gehoor het. Die Israeliete het hulself altyd weer herinner aan God se redding by die Rooisee, die woestyn en die Intog - dink maar aan Jerigo.

'n Mens moet eintlik dagboek of journaal hou van hierdie "reddingdade" van die Here, want ons is geneig om dit te vergeet. Maar 'n mens moet ook jou beloftes en geloftes nakom wat jy in sulke oomblikke maak. Die Prediker herinner ons dat ons ons geloftes moet betaal - die Here hou nie van ligsinnigheid nie (Pred 5:3). Watter beloftes het jy deur die jare aan die Here gemaak? Hou jy dit steeds? Hy was getrou - is jy getrou?

Op Geloftedag sê ek vir die Here dankie vir Sy hand in ons land se geskiedenis - op 16 Desember maar ook in baie ander dinge. Maar ek sê ook dankie vir al die klein "Bloedriviere" in my eie lewe - al die klein, onverdiende oorwinnings. God is getrou - Hy hoor as Sy kinders roep. Hy hoor ook vir jou...

Mooi dag!
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande