Geskors vir 12 weke...

Vrydag refleksie - 5 Desember

Eben Etzebeth is vir 12 weke (12 wedstryde)  geskors. As 'n mens die publiek se kommentare lees, besef jy dat mense verskillende opinies het oor sy skorsing. Die feit van die saak is dat hy verkeerd was en dat hy 'n klomp wedstryde gaan mis as gevolg van een onbesonne oomblik. 'n Mens wil amper vra: was dit die moeite werd?

Ek lees hierdie week die hartseer verhaal van Marion James. Sy was die vinnigste vrou in die wêreld. Sy het by die Sydney Olimpiese Spele in 2000 goue medaljes gekry vir die 100m, 200m en die 4x400m aflos, asook brons vir verspring en ook die 4x100m aflos - drie goud en twee brons.

Na jare se ondersoeke het sy in 2008 erken dat sy verbode middels gebruik het en vir die federale ondersoekers gejok het. Sy het al haar medaljes verloor en ses maande tronkstraf gekry. Die vrou wat op 'n stadium die vinnigste vrou in die wêreld was, kon later in die tronk skaars loop.

Ek glo dat Marion James haar hare uit haar kop kon trek oor sekere besluite wat sy geneem het. Sy het 'n duur prys betaal. In haar eie woorde: "I have no-one to blame but myself for what I've done...Making the wrong choices and bad decisions can be disastrous."

Daar is 'n les te leer vir elkeen van ons. Een onbesonne oomblik of een dom besluit kan jou hele lewe verwoes. Vra maar vir Simson of die verhouding met Delila die moeite werd was - dit het altwee sy oë en sy lewe gekos (Rig 16). Of vra vir Ananias en Saffira watter prys hulle betaal het vir hulle oneerlikheid oor geld - hulle het alles (hulle lewens) verloor (Hand 5). Een onbesonne oomblik kan jou lewe verwoes.

Ons almal het waarskynlik iewers in ons lewens iets onbesonne aangevang. Dalk was jy gelukkig en het jy weggekom daarmee; dalk het jy 'n duur prys betaal daarvoor. Die kort en lank van alles is: dis nie die moeite werd nie - daar is te veel op die spel. Een verhouding kan jou huwelik kos; een klein bedraggie geld wat jy vat, kan jou werk kos; een woede-uitbarsting kan iemand se lewe kos - vra maar vir Moses wat in 'n onbesonne oomblik 'n Egiptenaar doodgeslaan het (Eks 2).

Die Spreuke-skrywer sê daar is 'n pad wat (op daardie oomblik?) vir die mens reg lyk maar die uiteinde daarvan is die dood (Spr 14:12 en 16:25). Dink mooi, bereken die koste, maak die regte keuse en leef reg...

Mooi dag!
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

God se hande